Roelf Meyer, Suid-Afrika se ambassadeur in Washington, sê die Suid-Afrikaanse regering wil voortgaan met gesprekke om die spanning tussen die twee lande te probeer ontlont.

“Ons neem kennis van wat minister van buitelandse sake [Marco] Rubio gister gesê het, maar ons wil graag voortgaan met gesprekke, en dit is wat ons glo die taak is,” het Meyer gesê.

Die visumbeperkings volg nadat die VSA herhaaldelik beswaar gemaak het teen Suid-Afrikaanse beleid en optrede wat volgens Washington Afrikaners en ander minderhede benadeel. Die Amerikaanse regering sê hy is ernstig bekommerd oor wat hy as rasgemotiveerde misdaad en staatsgesteunde diskriminasie teen dié groepe beskou.

Pretoria verwerp dié siening.

Geen name nog bekend gemaak nie

Dit is nog nie bekend wie deur die nuwe visumbeperkings geraak sal word nie. Washington het geen name bekend gemaak nie.

Volgens Suid-Afrikaanse diplomatieke bronne word daar nie verwag dat pres. Cyril Ramaphosa of ander senior regeringslede aanvanklik geteiken sal word nie, aangesien dit die spanning tussen die twee lande verder kan verhoog.

ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula en EFF-leier Julius Malema se name is in bespiegeling oor moontlike teikens genoem. Dit is egter nie deur die Amerikaanse regering bevestig nie.

Malema se naam word ook vermoed weens sy verdediging van Kill the Boer.

Visumbeperkings glo net die begin

Brent Bozell, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, het gewaarsku dat die nuwe visumbeleid net die “eerste stap” is en dat verdere maatreëls kan volg.

Hy het nie gesê wat Washington volgende beplan nie.

Die VSA het vroeër verskeie kwessies met Pretoria geopper. Dit sluit volgens Washington die bekamping van plaasmoorde, ’n veroordeling van Kill the Boer, besware teen breëbasis-swart ekonomiese bemagtiging en onteiening sonder vergoeding, asook Suid-Afrika se bande met Iran en ander Amerikaanse teenstanders in.

Die Suid-Afrikaanse regering betwis op sy beurt die Amerikaanse siening dat sy wetgewing teen Afrikaners diskrimineer. Pretoria en Washington verskil ook oor hoe plaasmoorde en die posisie van Afrikaners in Suid-Afrika vertolk word.