Die Pretoria-hooggeregshof het gehoor dat Yolandé Maritz-Fouchee, ’n geskorsde vroedvrou en verpleegster, volgens die staat ’n posisie van vertroue misbruik het wat uiteindelik verwoestende gevolge vir verskeie gesinne gehad het.
Maritz-Fouchee is reeds op 14 aanklagte skuldig bevind wat verband hou met geboortes by haar You and Me-praktyk tussen April 2019 en Augustus 2020. Die sake hou verband met watergeboortes waartydens twee babas dood is en nog twee kinders ernstige breinbeserings opgedoen het.
Tydens strafverswarende argumente het staatsaanklaer Jennifer Cronjé gesê vroue het hulself en hul ongebore kinders aan Maritz-Fouchee toevertrou omdat sy as ’n ervare spesialis-vroedvrou bekendgestaan het. Volgens die staat het die moeders geglo hulle ontvang veilige en professionele sorg.
Een van die aanklagte handel oor die dood van Noah van Kloëg. Die hof het bevind dat Maritz-Fouchee versuim het om betyds op te tree toe komplikasies tydens die swangerskap en geboorte ontstaan het. Volgens die staat het sy nie raakgesien dat die fetus nie normaal ontwikkel nie en die baba is later dood ná komplikasies tydens en ná die geboorte.
Die hof het ook bevind dat sy moeders medikasie toegedien het sonder hul toestemming of kennis. Die middel, wat gebruik word om kraam te versnel, het volgens die staat komplikasies veroorsaak.
Nog ’n baba het ernstige breinskade en blindheid opgedoen nadat Maritz-Fouchee glo probeer het om die bevalling self af te handel in plaas daarvan om die moeder betyds hospitaal toe te stuur.
Cronjé het aan die hof gesê minstens drie van die swangerskappe was hoërisikogevalle en dat waarskuwingstekens geïgnoreer is. Volgens haar is die reg op lewe van die babas van die slagoffers ontneem, terwyl die families nou vir die res van hul lewens met die trauma en gevolge daarvan moet saamleef.
Die staat het verder aangevoer dat Maritz-Fouchee geen berou toon oor wat gebeur het nie. Volgens Cronjé glo sy steeds dat sy niks verkeerd gedoen het nie en verstaan sy nie die omvang van die skade wat aangerig is nie.
Die hof het ook gehoor dat Maritz-Fouchee ná haar skorsing steeds met tuisgeboortes voortgegaan het. Haar tienerdogter het glo ook vroedvrou-pligte by die praktyk verrig.
Volgens die staat was geld moontlik ’n groot dryfveer agter haar optrede. Die voorvonnisverslag dui glo aan dat die praktyk tussen R100 000 en R200 000 per maand verdien het. Cronjé het gesê die behoud van kliënte en die weiering om pasiënte na hospitale te verwys, kon moontlik finansieel gemotiveer gewees het.
Die hof het vroeër beveel dat die identiteit van die klaers nie bekend gemaak mag word nie.
Maritz-Fouchee bly in aanhouding en haar vonnis word Donderdag verwag.