Israel het Woensdag gesê die nuwe hoof van Hamas se gewapende vleuel in Gaza, Mohammed Odeh, is Dinsdag in ’n lugaanval dood. Dit volg nadat sy voorganger vroeër die maand ook in ’n soortgelyke aanval dood is.
Die Israeliese minister van Verdediging, Israel Katz, sê Odeh, wat Hamas se gewapende vleuel gelei het, is “uitgeskakel”.
Hamas het nog nie op die bewerings gereageer nie.
Katz het die Israeliese weermag en die intelligensiediens, Shin Bet, gelukgewens met die aanval. Hy het gesê Israel bly vasbeslote om almal te teiken wat volgens hulle by die aanvalle van 7 Oktober 2023 betrokke was.
Volgens Katz en die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, was Odeh voorheen die hoof van Hamas se intelligensie-eenheid tydens die aanvalle van 7 Oktober. Hy is sowat ’n week gelede as opvolger van Ezzedine al-Haddad aangestel.
Al-Haddad is op 15 Mei in ’n Israeliese aanval dood.
Israel beweer Odeh was verantwoordelik vir die dood, ontvoering en besering van talle Israeliese burgers en soldate.
Ná Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023 het Netanyahu belowe om die leiers agter die aanval op te spoor en dood te maak.
Volgens amptelike Israeliese syfers het die aanvalle van 7 Oktober tot die dood van 1 221 mense gelei.
Volgens Gaza se gesondheidsministerie het Israel se militêre optrede sedertdien minstens 72 803 mense in Gaza doodgemaak.
Israel het vroeër ook Hamas-leiers soos Ismail Haniyeh, Yahya Sinwar, Mohammed Deif en Mohammed Sinwar doodgemaak.
Israeliese aanvalle het ook Hamas-lede in Libanon en senior Hezbollah-bevelvoerders geteiken, insluitend die voormalige Hezbollah-leier Hassan Nasrallah.
Intussen sê Libanon se gesondheidsministerie dat Israeliese aanvalle in suidelike Libanon Dinsdag 31 mense doodgemaak het terwyl Israel sy aanvalle teen Hezbollah verskerp het ondanks die bestaande skietstilstand.
Hezbollah sê hulle het Israeliese troepe teëgestaan wat die suidelike dorp Zawtar al-Sharqiyah binnegegaan het, terwyl Israel beweer hulle brei hul grondoperasies uit.
Volgens Libanon se gesondheidsministerie is 31 mense dood, onder wie minstens vier kinders en drie vroue. Nog 40 mense is beseer.
Veertien mense is in Burj al-Shamali naby Tirus dood, vyf in Kawthariyat al-Riz, vier in Habbush, ses in Maarakeh en twee in Salaa.
Lugaanvalle is ook in die suidelike stad Nabatieh aangemeld nadat Israel inwoners gewaarsku het om die gebied te verlaat.