Die 19 maande oue Jana Steyn van Koster in Noordwes is weer op pad huis toe ná ’n merkwaardige herstel van ’n byna noodlottige ongeluk op haar ouers se plaas in Augustus. Die Steyn-gesin se lewe is omgekeer toe Jana se pa, Shaun, per ongeluk met sy bakkie oor haar gery het nadat sy onverwags voor die voertuig ingehardloop het. Die ongeluk het ernstige kopbeserings veroorsaak, en selfs ’n klip is tussen haar skedel en brein verwyder.
Jana het egter almal verstom met haar vinnige en volledige herstel. Sy is ná meer as ’n maand in die hospitaal en verdere rehabilitasie in Auckland Park vandag sterker, vroliker en amper weer haar ou self. “Sy word letterlik by die uur sterker,” sê haar ma, Kelly. “Dis ’n wonderwerk.”
Ten spyte van die erge beserings het Jana geen permanente skade opgedoen nie. Haar sig is normaal, en sy het weer begin kruip en stap. Sy gesels weer, leer nuwe woorde en is vol lewe. “Sy is net ’n plesier en reeds ’n baie besige lyfie,” sê Steyn.
Volgende maand begin Jana met spelterapie om haar brein verder te stimuleer, maar vir eers sien die gesin uit om terug te keer plaas toe. “Nie een van die terapeute sien enigiets wat nie reg is nie. Ons is ongelooflik dankbaar,” sê Kelly.
Die Steyns glo dat klein Jana se herstel niks minder as ’n wonderwerk is nie – en vir hulle is daar net een gepaste reaksie: “Ons is net ongelooflik dankbaar.”