Sewe maatskaplike werkers van regoor Suid-Afrika is vandag, 17 Maart, op Internasionale Maatskaplikewerkersdag deur Solidariteit Helpende Hand as Hoopdraers vereer vir hul onbaatsugtige diens en toewyding aan hul gemeenskappe.
Internasionale Maatskaplikewerkersdag bied ’n geleentheid om erkenning te gee aan die belangrike rol wat maatskaplike werkers speel in die bevordering, herstel en versterking van gemeenskappe. Hulle werk dikwels agter die skerms, maar maak ’n diep en blywende verskil in mense se lewens.
Die ontvangers van die toekennings is vroeër vanjaar deur die publiek genomineer vir hul passievolle betrokkenheid en bereidwilligheid om die ekstra myl te stap. Die toekennings dien as erkenning aan individue wat daagliks help om gemeenskappe op te bou en te versterk.
Volgens kenners in die veld verteenwoordig hierdie Hoopdraers die ware gees van diensbaarheid — mense wat kies om hoop te bring waar daar moedeloosheid is en om langs die kwesbaarstes in die samelewing te staan.
In ’n wêreld vol uitdagings word maatskaplike werkers dikwels beskryf as draers van hoop, wat met empatie, toewyding en opoffering ’n verskil maak. Met elke persoon wat hulle help, bou hulle nie net individue op nie, maar dra hulle by tot sterker, meer veerkragtige gemeenskappe.
Die Hoopdraers van 2026 is:
-
Francois Meyer – Vanderbijlpark
-
Charnelle Findlay – Margate
-
Gerda van der Merwe – Modimolle
-
Wilma Vermeulen Crafford – Volksrust
-
Louise van Zyl – Rustenburg
-
Marinei Herselman – Oos-Londen
-
Tobias Kleinhans-le Roux – Kuilsrivier
Hierdie maatskaplike werkers het nie net ’n verskil gemaak nie, maar ook blywende spore van hoop en positiewe verandering in die lewens van die mense wat hulle dien.
Gemeenskappe word aangemoedig om hierdie dag doelbewus te vier deur ’n woord van dank of ’n eenvoudige gebaar van waardering aan maatskaplike werkers te rig — mense wat daagliks hul tyd en energie gee om ander te help.