KHARTOUM – By ’n geïmproviseerde lykshuis in Khartoem blaai die ingenieur wat lyksbesorger geword het, Ali Gebbai, deur ’n spreiblad van die oorledenes. Duisende inskrywings – elk met ’n foto en ’n begraafplek – vorm ’n skokkende rekord van Soedan se oorlog.
Elke keer wanneer die span vrywilligers ’n liggaam vind, plaas hulle die besonderhede op sosiale media en wag 72 uur in die hoop dat familielede die foto sal sien en die oorledene kan uitken.
“Ons neem foto’s van elke liggaam, kyk vir leidrade in hul sakke en merk die plek waar ons hulle begrawe,” het Gebbai gesê.
Op ’n versengende dag in April het ’n oorlede vrou in ’n klein, lugversorgde vertrek gelê, met haar gewaad oor haar gesig en liggaam getrek.
Indien niemand haar kom identifiseer nie, word sy volgens Moslemgebruike gewas, in ’n skoon wit doek toegedraai en naby begrawe.
Dit is die beste waarop inwoners van Khartoem kan hoop. Baie slagoffers van die oorlog word bloot haastig begrawe waar hulle geval het.
Die konflik tussen Soedan se weermag en die paramilitêre Rapid Support Forces duur reeds vier jaar. Hoewel daar geen amptelike dodetal is nie, word dit op tienduisende beraam, met sommige skattings wat meer as 200 000 noem.
Kenners waarsku dat die gebrek aan duidelikheid oor slagoffers diep trauma in die samelewing veroorsaak.
In die jaar sedert die weermag Khartoem herower het, is sowat 28 000 liggame opgegrawe en weer begrawe – en minder as die helfte van die stad is nog skoongemaak.
Volgens Gebbai het sy span reeds 7 000 mense sedert die begin van die oorlog begrawe.
Intussen het etniese geweld in Darfoer duisende lewens geëis, en vanjaar alleen is minstens 700 mense in hommeltuigaanvalle in Kordofan dood.
Lykshuise verwoes
Regoor die land is daar bykans geen fasiliteite om liggame te bêre of te tel nie. Tydens die ergste geweld, wanneer moskees en markte gebombardeer word, het reddingspanne dikwels  te min begrafnisdoeke. Baie liggame word in klere of plastiek toegedraai en op die plek begrawe.
Khartoem se lykshuise was reeds oorvol voor die oorlog en is later buite werking gestel. Sommige is heeltemal vernietig, met liggame wat binne ontbind het.
Baie mense is noodgedwonge in agterplase, speelparke en selfs op straathoeke begrawe, wat Khartoem mettertyd in ’n oop grafveld verander het.
“Dit laat ’n blywende merk op die samelewing – dit tas menswaardigheid aan en maak die dood alledaags,” het ’n forensiese amptenaar gesê.
Soektog na vermistes
Hoewel baie van die opgegrawe liggame geïdentifiseer kon word, bly talle onbekend. Owerhede neem monsters soos been of hare in die hoop dat dit later gebruik kan word vir identifikasie, maar Soedan beskik nie oor funksionerende DNS-laboratoriums nie.
Volgens die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis word minstens 11 000 mense as vermis beskou.
Vir families bly die onsekerheid ’n oop wond. “Om afsluiting te kry en vertroue te herstel, moet die vermistes gevind word,” het ’n verteenwoordiger gesê.
Gebbai onthou ’n jong man wat meer as ’n jaar lank na sy pa en oom gesoek het.
“Toe hy by ons kom, het hy uitgevind hulle is albei in die vroeë weke van die oorlog doodgeskiet. Dit het hom gebreek – hy het ineengestort en lank gehuil.”
Ten minste kon hy uiteindelik hul grafte besoek.