TBILISI – Die Junior Springbokke se hulpafrigter, Lumumba Currie, sê daar is nog baie om te verbeter voor Maandag se halfeindstryd teen Engeland in die Wêreldrugby Onder 20-kampioenskap in Tbilisi.
Die verdedigende kampioene het Groep A onoorwonne afgesluit nadat hulle Uruguay, Georgië en Wallis geklop het om met die maksimum punte boaan die groep te eindig.
Currie het die span se voorspelers geloof vir hul oorheersing, asook die verbetering in die verdediging en die spelers se veerkragtigheid gedurende die groepfase.
Engeland het ook onoorwonne boaan Groep C geëindig en sal Maandag die Junior Bokke in die halfeindstryd pak.
In die ander halfeindstryd kom Frankryk en Nieu-Seeland teen mekaar te staan.
Ten spyte van die oortuigende oorwinning oor Wallis het Currie gesê die Junior Bokke het verskeie geleenthede nie benut nie. Hy het beklemtoon dat kliniese afronding deurslaggewend sal wees in die meedoënlose uitklopfase.