Veroordeelde pedofiel Iain Wares sal Woensdag in die Wynberg-streekhof gevonnis word.
Die 86-jarige voormalige onderwyser van Kaapstad is skuldig bevind aan die onsedelike aanranding van ’n oud-leerder, wat slegs as Stephen bekend staan.
Die hof het in Maart bevind dat Wares Stephen in 1988 aangerand het toe hy in graad 5 by Laerskool Rondebosch Boys was.
Stephen het getuig dat Wares hom onvanpas by die skool aangeraak het.
Tydens die verhoor het Wares sy onskuld volgehou. Hy het beweer dat hy nie die klaer onthou nie en dat hy nie die misdryf kon gepleeg het nie.
Die hof het egter sy weergawe verwerp en beslis dat die staat die saak bo redelike twyfel bewys het.
Die regter het die slagoffer as ’n geloofwaardige en betroubare getuie beskryf en gesê sy getuienis was konsekwent en eerlik.
Wares sal ook op 8 Mei in die Simonstad-landdroshof verskyn vir ’n uitleweringsverhoor.
Owerhede in Skotland wil hê hy moet daar teregstaan op aanklagte van seksuele misbruik van kinders. Die aanklagte hou verband met sy tyd as onderwyser by Edinburgh Academy en Fettes College in die 1960’s en 1970’s.
Meer as 100 mans het hom reeds van soortgelyke misbruik beskuldig.
Wat was die uitslag van die 8 Mei se uitleweringsverhoor?
Die saak in ongelukkig uitgestel omdat sy nuwe prokureur vir meer tyd gevra om ’n verslag van ’n maatskaplike werker te kry voordat die vonnisverrigtinge begin. Landdros Vanessa Miki het die uitstel toegestaan tot 7 Junie vir die voorvonnisverrigtinge.