~Hierdie artikel is deur Gawie Snyman en is geplaas op:Ons leiers moet sout wees – Bepeins
Die onlangse munisipale verkiesings het die aandag opnuut op verskeie probleme in ons land gevestig. Politieke partye en kandidate het met allerlei oplossings vorendag gekom – van ekonomiese herstel tot veiligheid, van dienslewering tot deursigtigheid. Ook in Orania is die Burgerraad van die Orania Verteenwoordigende Raad verkies.
In hierdie tye tree die vraag sterk na vore: Wie moet ons as gelowiges kies om ons te lei? En hoe lyk ’n leier wat werklik sout vir die aarde is?
Jesus het gesê:
“Julle is die sout van die aarde; maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie” (Matt. 5:13, 1953-vertaling).
Sout moet anders wees. Dit moet smaak gee, bewaar en soms selfs brand. Wanneer gelowiges – en veral gelowige leiers – probeer om meer soos die wêreld te word om steun te werf, verloor hulle hul soutgehalte. Die wêreld raak dan deurmekaar, nie omdat daar te min mense wat hulself Christene noem in magsposisies is nie, maar omdat dié mense nie meer oor die kwaliteite van sout beskik nie.
Kies leiers wie se geloof in dade van gehoorsaamheid oorgaan
As gelowiges mag ons nie naïef wees nie. Ons moet Godvresende leiers kan onderskei van wolwe in skaapsklere. Die maatstaf is nie mooi woorde of vae verwysings na “Christelike waardes” nie. Die werklike toets is of iemand se geloof in Christus tot gehoorsaamheid aan Hom lei.
Samuel het dit duidelik aan Saul gestel:
“Het die HERE soveel behae in brandoffers en slagoffers as in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, gehoorsaamheid is beter as offerande, luister beter as die vet van ramme” (1 Sam. 15:22).
Saul het gedink hy doen die regte ding toe hy self die offer gebring het omdat Samuel getalm het (1 Sam. 13), en toe hy die beste van die buit gespaar het “vir die Here” (1 Sam. 15). Maar hy was ongehoorsaam.
Dieselfde gesindheid sien ons by Nadab en Abihu, wat vreemde vuur na die altaar gebring het (Lev. 10). Hulle was priesters, seuns van Aäron, en hulle het iets gedoen wat op die oog af by die tabernakel gepas het. Maar die Here het dit nie beveel nie. Die vuur het hulle verteer. God moet geheilig word deur dié wat naby Hom is.
Ons moet leiers kies wat in die ware Wynstok bly. Jesus het gesê:
“Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer… Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot van homself geen vrug kan dra as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie… Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug, want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:1, 4-5).
Kulturele Christenskap is die poging om vrugte te dra sonder om aan die Wynstok verbind te wees. Dit lyk soos Christus – met waardes, etiek en “goeie beginsels” – maar staan los van die Persoon van Christus self. Die gevolg is vae terme en taal wat die wêreld se boosheid nie pla of aanstoot gee nie, omdat dit eintlik dieselfde denkwyse as dié van die wêreld weerspieël.
Die vrug van die Gees (Gal. 5:22-23) is nie bloot persoonlike deugde wat in jou privaat lewe sigbaar word nie. By ’n leier lyk dit só: liefde wat nie ander mense as middele tot eie voordeel of magsposisie gebruik nie; selfbeheersing en sagmoedigheid wanneer jy mag het; getrouheid en goedheid wat jou laat regverdig optree, selfs wanneer dit jou steun kos; en blydskap en vrede wat voortkom uit die besef dat jy God moet behaag, nie die skare nie.
Rentmeesters, nie heersers nie
Daar is ’n direkte verband tussen pragmatisme en die vraag of ’n leier homself as die heerser oor die erfdeel beskou. Die Skrif beskryf gelowige leiers nie as eienaars nie, maar as rentmeesters.
Paulus skryf:
“Laat ’n mens ons dan beskou as dienaars van Christus en as bestuurders van die geheimenisse van God. Verder word van die bestuurders verlang dat hulle getrou bevind word” (1 Kor. 4:1-2).
Die posisie, invloed en mense behoort nie aan die leier nie. Dit is aan hom toevertrou. Hy moet dit bestuur volgens die wil van die Eienaar en tot Sy eer.
Wanneer ’n leier die erfdeel as sy eie begin beskou, word pragmatisme byna onvermydelik. Die belangrikste maatstaf word dan: “Wat werk vir my doel, my steun of my oorlewing?” Die vraag: “Is dit in pas met die wil van God?” skuif na die agtergrond.
Dawid het in hierdie strik getrap toe hy die volk laat tel het (2 Sam. 24; 1 Kron. 21). Joab het daarteen beswaar gemaak, maar Dawid het daarop aangedring. Hy het die mense begin beskou as ’n militêre hulpbron – asof Israel se krag in die getal soldate tot sy beskikking gelê het, eerder as in die Here. Die pes wat daarop gevolg het, het sewentigduisend man se lewens geëis. Selfs ’n man na God se hart kan in ’n oomblik van selfvertroue die erfdeel as sy eie begin hanteer.
Hoe anders was die jong skaapwagter wat die Filistynse reus in die Naam van die Here van die leërskare aangedurf het, met net ’n slingervel en vyf klippies (1 Sam. 17). Dawid het toe nie op menslike vermoëns staatgemaak nie. Hy het op die Here vertrou.
Die voorbeelde van Josef, Daniël en Nehemia
Josef het getrou gedien, eers in Potifar se huis en later in die tronk. Toe hy versoek is om te sondig, het hy gevra: “Hoe sou ek dan so ’n groot kwaad kan doen en teen God sondig?” (Gen. 39:9). Toe hy versoek is om Farao se drome uit te lê, het hy ook die eer aan die Here gegee.
Later, as tweede in bevel in Egipte, het hy die hongersnood bestuur, maar steeds die eer aan God gegee. Hy het nie probeer om die Egiptiese stelsel volgens sy eie agenda te verander nie. Hy het binne die omstandighede waarin hy hom bevind het, getrou en gehoorsaam gedien.
Daniël het geweier om van die koning se kos te eet (Dan. 1) en het onder verskeie konings gedien sonder om kompromieë aan te gaan. Toe ’n wet aanbidding van die Here verbied het, het hy steeds drie maal per dag gebid (Dan. 6). Hy het nie sy gebedslewe aangepas om homself veilig te hou nie. Sy invloed het uit sy getrouheid voortgespruit, nie uit sy bereidwilligheid om aan te pas nie.
Nehemia het eers gebid en gevas voordat hy die koning genader het (Neh. 1). Hy het die mure van Jerusalem herbou, ondanks sterk teenstand, en geweier om die werk prys te gee. Hy het ook ongeregtigheid binne die volk aangespreek en self persoonlike voordeel van die hand gewys. Sy herhaalde gebed was: “Dink tog, my God, aan my…”
Hierdie manne het nie geglo dat hulle meer soos die wêreld moes word om invloed te hê nie. Hulle het God se aangesig gesoek en Sy eer eerste gestel. Hulle was bereid om die korttermyn koste van gehoorsaamheid te dra.
Die eenvoudige, maar uitdagende taak
Die taak van ’n Christen wat werklik wedergebore is en as politieke of gemeenskapsleier sy mense wil dien, is eintlik eenvoudig, maar terselfdertyd baie uitdagend: Bly in die Wynstok, soek die Here se aangesig, wees ’n getroue rentmeester en doen wat Hy sê.
Wanneer die taak baie ingewikkeld word, is dit gewoonlik omdat die baie eenvoudige taak te moeilik lyk om uit te voer en heel waarskynlik omdat mens meer waarde aan die menings van mense heg as om aan die Here gehoorsaam te wees.
Leiers wat graag taktiese of strategiese argumente gebruik om te verduidelik waarom die voor-die-hand-liggende regte ding te moeilik onder die omstandighede is om te doen, moet met versigtigheid benader word. Dit is gewoonlik ’n teken van iemand wat homself as die hoogste gesag in sy eie lewe en in die lewe van die volk beskou.
Moses was die sagmoedigste man op aarde (Num. 12:3), maar in ’n oomblik van swakheid het hy die rots geslaan in plaas daarvan om daarmee te praat (Num. 20). Hy het homself verhef deur te vra: “Moet ons water uit hierdie rots vir julle uithaal?” Die gevolge was ernstig: Hy is nie toegelaat om die beloofde land binne te gaan nie. Selfs die grootste leier kan struikel wanneer hy vergeet dat hy ’n rentmeester is.
Die verlies aan lewenskrag
Die Weste, wat eens Christelik was, het sy lewenskrag verloor namate leiers en volke opgehou het om in die Ware Wynstok te bly. Die lote het verdroog.
Jesus het gewaarsku dat die Landbouer elke loot wat nie vrug dra nie, wegneem, en elke loot wat wel vrug dra, snoei sodat dit nog meer vrug kan dra (Joh. 15:2).
Pogings om die verlede te laat herleef deur terug te gryp na vae begrippe van konserwatisme en tradisie – begrippe wat nie te veel aanstoot aan die wêreld sal gee nie – is ’n poging om die voordele van die beloftes te verkry sonder om ’n verhouding met die Here te koester. Dit is kulturele Christenskap, nie lewende lote wat in die Wynstok bly nie.
Die gevaar is nie bloot dat gelowiges “nie sout is nie”, maar dat hulle hul soutgehalte verloor omdat hulle probeer om volgens die wêreld se maatstawwe relevant te wees.
Die wêreld se redenasie is: Word soos ons sodat julle ons kan verander. Die Skrif leer presies die teenoorgestelde. Die Kerk en gelowige leiers moet juis lig en sout wees omdat hulle anders is (Matt. 5:13-16; Fil. 2:15).
’n Oproep tot bekering
Die oplossing begin nie by beter strategieë of slimmer politiek nie. Dit begin by bekering. My bekering. Jou bekering. Ons volk se bekering. Ons leiers se bekering.
Dit beteken dat ons moet terugkeer na Jesus Christus, die Ware Wynstok. Terugkeer na gemeenskap met Hom. Terugkeer na ’n lewe waarin ons gehoorsaamheid aan Hom koester, Sy Naam verheerlik en die eer van Sy koninkryk eerste stel.
Ons moet weer leiers kies – en self leiers wees – wat vra: “Here, hoe wil U my gebruik? Wat moet ek vir U doen? Waar moet ek myself opoffer om te dien?”
Dit moet leiers wees wat besef dat ons, deur die krag van die Gees, ons bes moet doen, maar dat God die res doen. Sy eer kom eerste. Ons eie wil is ondergeskik aan Sy wil.
As ons sout wil wees, moet ons in Hom bly. Anders sal ons uitgewerp en vertrap word. Die Landbouer soek vrugte.
Mag ons, en ook dié wat ons kies om ons te lei, ware lote wees wat in die Wynstok bly, sodat Sy Naam verheerlik kan word.
~Hierdie artikel is deur Gawie Snyman en is geplaas op:Ons leiers moet sout wees – Bepeins