President Cyril Ramaphosa beskou die ontginning van nuwe handelsmarkte as ’n moontlike oplossing vir die ekonomiese gevolge van Suid-Afrika se voorgenome uitsluiting uit die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA).
Ramaphosa het Dinsdag tydens ’n vraesessie in die Nasionale Raad van Provinsies gesê hy het min hoop dat die Amerikaanse besluit omgekeer sal word.
Die VSA het op 2 November ’n kennisgewing van 60 dae uitgereik oor sy voorneme om Suid-Afrika se begunstigdestatus ingevolge AGOA te beëindig.
Die uitsluiting sal na verwagting op 1 Januarie 2027 in werking tree.
AGOA bied Suid-Afrika tariefvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir sekere produkte.
Ramaphosa sê die regering fokus nou daarop om Suid-Afrikaanse werknemers teen moontlike werkverliese te beskerm deur alternatiewe handelsgeleenthede te ontwikkel.
Volgens hom het verskeie Suid-Afrikaanse ondernemings reeds begin om alternatiewe markte te soek, terwyl die regering ook wêreldwyd poog om nuwe uitvoermarkte oop te stel.
Ondanks die voorgenome uitsluiting sê Ramaphosa dat Suid-Afrika sal voortgaan met onderhandelinge met die VSA in die hoop dat handelsbetrekkinge in die toekoms kan verbeter.