Die familie van die Suid-Afrikaanse humanitêre ambassadeur Faizel Moosa sê hy is deur Israeliese owerhede onderskep en aangehou terwyl hy deelgeneem het aan ’n burgerlike vloot wat humanitêre hulp na Gaza vervoer.
Volgens ’n verklaring wat Maandag uitgereik is, was Moosa deel van die Global Sumūd-vloot C ’n internasionale burgerlike inisiatief wat daarop gemik is om noodsaaklike hulp te lewer en aandag te vestig op die voortgesette blokkade van Gaza. Aktiviste sê dié blokkade beperk toegang tot kos, mediese hulp en ander noodsaaklike hulpbronne vir burgers.
Die familie het groot kommer uitgespreek oor sy veiligheid en welstand, en daarop gewys dat Moosa diabetes het en afhanklik is van chroniese medikasie.
Volgens sy familie is Moosa ’n humanitêre werker, anti-apartheid-aktivis en veteraan van die stryd. Hy is ook die seun van die ontslape anti-apartheidfiguur en regter Essa Moosa.