Die Noorse kroonprinses, Mette-Marit, het ’n suksesvolle longoorplanting ondergaan. Die aankondiging kom net twee dae nadat haar seun, Marius Borg Høiby, skuldig bevind is aan twee aanklagte van verkragting.
Die Noorse koningshuis het op 17 Junie bekend gemaak dat die 52-jarige kroonprinses die operasie in die Oslo Universiteitshospitaal se Rikshospitalet ondergaan het.
“Hare Koninklike Hoogheid kroonprinses Mette-Marit het ’n suksesvolle longoorplanting by Oslo Universiteitshospitaal Rikshospitalet in Oslo ondergaan,” het die paleis in ’n verklaring gesê.
Professor Arnt Fiane, hoof van die hart- en longoorplantingsprogram by die hospitaal, het gesê die prosedure was tot dusver suksesvol en het die mediese span vir hul werk geloof.
Volgens professor Are Holm, ’n longspesialis aan dieselfde hospitaal, verloop haar herstel tot dusver goed.
“Ons is verheug dat alles tot dusver goed verloop het. Soos gebruiklik ná ’n oorplanting, sal die kroonprinses nog vir etlike weke in die hospitaal bly,” het hy gesê.
Die wagtyd in die hospitaal sal gebruik word om haar medikasie aan te pas, moontlike komplikasies te monitor en met rehabilitasie te begin.
Die koningshuis het ook aangekondig dat kroonprins Haakon sy program gaan aanpas om sy vrou gedurende haar herstelperiode te ondersteun.
Geen verdere opdaterings oor haar toestand word verwag voordat sy uit die hospitaal ontslaan word nie. Die koninklike egpaar het intussen hul dank uitgespreek vir die talle boodskappe van ondersteuning wat hulle gedurende hierdie moeilike tyd ontvang het.
Mette-Marit is in 2018 met chroniese longfibrose gediagnoseer. Die paleis het vroeër hierdie maand aangekondig dat sy op ’n waglys vir ’n longoorplanting geplaas is en sommige openbare verpligtinge sou moes kanselleer.
Sy is die afgelope maande by verskeie geleenthede met ’n suurstofbuisie gesien. Op 4 Junie het sy saam met haar man en hul dogter, prinses Ingrid Alexandra, die hospitaal in Oslo besoek – net ’n dag voordat bevestig is dat sy op die waglys geplaas is.
Die aankondiging oor haar operasie volg kort nadat haar seun, Marius Borg Høiby (29), tot vier jaar tronkstraf gevonnis is nadat hy aan verskeie misdrywe, waaronder twee aanklagte van verkragting, skuldig bevind is.
Marius is Mette-Marit se seun uit ’n verhouding voordat sy in 2001 met kroonprins Haakon, die troonopvolger van Noorweë, getroud is.
Hy is nie in die lyn van troonopvolging soos sy halfsuster, prinses Ingrid Alexandra, en halfbroer, prins Sverre Magnus, nie, maar het deur die jare gereeld saam met die koninklike familie by amptelike geleenthede verskyn.
Voor sy skuldigbevinding het ’n Noorse appèlhof sy versoek om tydelik uit aanhouding vrygelaat te word weens sy ma se swak gesondheid van die hand gewys.
“Dit is ondraaglik om hier binne te sit terwyl ek weet Ma is so siek,” het Marius gesê.