Inwoners van Pretoria-Oos is versoek om enige waarnemings van ’n rondloperbobbejaan met die bynaam Rassie aan te meld.

Die jong bobbejaanmannetjie, wat na die Springbok-afrigter Rassie Erasmus vernoem is, is die afgelope week in verskeie woonbuurte, waaronder Elarduspark, Mooikloof en Pretoriuspark, opgemerk.

Foto’s van die bobbejaan wat in strate rondloop en selfs by ’n swembad in iemand se erf opgemerk is, word op sosiale media versprei.

Brendan Murray, medestigter van die Owl Rescue Centre, sê hulle volg die bobbejaan reeds ses dae lank en verskuif ’n vanghok namate Rassie deur die gebied beweeg.

Indien Rassie teen Woensdag 25 November nog nie gevang is nie, sal die reddingspan dit moontlik oorweeg om hom met ’n verdowingspyl te verdoof.

Volgens Murray veroorsaak Rassie geen probleme nie, maar beweeg hy bloot deur die woonbuurte en eet hy van die kos wat hy onderweg teëkom.

Hy verduidelik dat jong bobbejaanmannetjies hul oorspronklike trop verlaat wanneer hulle geslagsryp word en dan rondbeweeg op soek na ’n nuwe trop.

Indien Rassie gevang word, sal hy waarskynlik in die Magaliesberg vrygelaat word.

Inwoners word versoek om hom nie te verjaag, bang te maak of self te probeer vang nie, maar eerder hul troeteldiere binnenshuis te hou en hom genoeg ruimte te gee om verder te beweeg.

Enige waarnemings van Rassie kan by die Owl Rescue Centre op 082 719 5463 aangemeld word.