TOKIO – ‘n Kragtige aardbewing het Donderdagoggend die kusgebied van Noord-Japan getref, maar die land se meteorologiese agentskap het bevestig dat daar geen gevaar vir ‘n tsoenami bestaan nie.
Die Japanse Meteorologiese Agentskap (JMA) het die aardbewing se magnitude op 7,2 vasgestel nadat ‘n aanvanklike lesing van 6,9 later opwaarts aangepas is. Die skudding het voor die oostelike kus van die Iwate-prefektuur plaasgevind op ‘n diepte van sowat 50 kilometer. Die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) het die aardbewing se magnitude op 6,9 beraam.
Die aardbewing het gedurende Donderdag se oggendspitsuur die noordoostelike deel van Japan getref en is ook ligweg in Tokio gevoel. Volgens die Kyodo-nuusagentskap is vier mense beseer.
Die gebied waar die aardbewing voorgekom het, is die afgelope maande deur verskeie sterk skuddings getref. In Desember verlede jaar het een daarvan daartoe gelei dat owerhede ‘n week lange waarskuwing uitgereik het oor die moontlikheid van ‘n sogenaamde mega-aardbewing.
Eerste minister Sanae Takaichi het aan joernaliste gesê die regering se noodspan plaas die veiligheid van inwoners eerste terwyl die situasie gemonitor en inligting ingesamel word. Sy het inwoners van die geraakte gebiede gewaarsku om bedag te wees op moontlike naskokke.
Tomoko Nagane, hoof van ‘n laerskool in die dorp Hashikami in die Aomori-prefektuur, het aan die openbare uitsaaier NHK gesê sy was besig om te bestuur toe die aardbewingwaarskuwing op haar selfoon verskyn het. Sy het gesê sy het matige sywaartse skudding ervaar. Kinders wat reeds by die skool was, is ongedeerd, hoewel sommige uit vrees begin huil het. Klasse is vir die res van die dag gekanselleer en alle leerlinge is veilig huis toe gestuur.
Verslaggewers van NHK in verskeie swaar geraakte stede, waaronder Sendai en Morioka, het berig dat die skudding vir etlike minute geduur het, maar dat geen noemenswaardige skade aanvanklik waargeneem is nie. Beeldmateriaal het getoon dat pendelaars hul gewone roetines voortgesit het.
Die Oos-Japanse Spoorwegmaatskappy het intussen aangekondig dat sommige sneltreine en plaaslike spoorlyne tydelik gestaak is sodat veiligheidsinspeksies uitgevoer kan word.
Owerhede het ook bevestig dat geen afwykings by kernkragaanlegte of ander kernfasiliteite aangemeld is nie. Dit sluit die Fukushima Daiichi-kernkragaanleg in, wat in 2011 tydens die verwoestende aardbewing en tsoenami ernstig beskadig is, asook ‘n aanleg vir die herverwerking van gebruikte kernbrandstof in Aomori.
Japan is geleë op die sogenaamde Stille Oseaan-vuurring, een van die wêreld se mees seismies aktiewe gebiede, en ervaar gereeld aardbewings van uiteenlopende sterktes.