Duisende huishoudings in Wes-Frankryk is sonder elektrisiteit nadat ‘n rekordbrekende hittegolf die land getref het.
Sowat 68 000 huise in die Bretagne-streek word steeds deur die kragonderbrekings geraak. Owerhede verwag dat die elektrisiteitsvoorsiening teen Woensdagaand ten volle herstel sal wees.
Meer as die helfte van Frankryk is tans onder ‘n rooi hittewaarskuwing, die hoogste waarskuwingsvlak. Temperature van tot 43 °C word in verskeie dele van die land verwag.
Frankryk het Dinsdag sy warmste dag nóg aangeteken, met ‘n gemiddelde temperatuur van 29,8 °C – die hoogste gemiddelde temperatuur wat nog in die land gemeet is.
Die hittegolf het ook na ander dele van Wes-Europa versprei. Nederland is onder die lande waar inwoners gewaarsku word om voorsorgmaatreëls te tref namate die temperature verder styg.