Die waarnemende minister van Polisie, professor Firoz Cachalia, het sy steun uitgespreek vir die waarnemende nasionale polisiekommissaris, luitenant-generaal Puleng Dimpane, maar twyfel oor die doeltreffendheid van die polisiediens bly voortbestaan.
Die twee het gister voor die parlement verskyn waar hulle die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se strategieë en struikelblokke uiteengesit het. Cachalia het beklemtoon dat hy glo Dimpane beskik oor die vermoë om die organisasie te lei en haarself in die rol te bewys.
Dimpane het op haar beurt verduidelik dat die SAPD beplan om groter klem te plaas op grondvlakoptrede en meer sigbare polisiëring. Hierdie benadering is volgens haar noodsaaklik in die lig van wydverspreide klagtes oor onvoldoende polisie-teenwoordigheid in gemeenskappe.
Daarby plaas Dimpane se aanstelling as vrou in dié pos die kollig nog skerper op prestasie eerder as simboliek. Suid-Afrikaners is reeds teleurgestel deur ’n lang lys manlike voorgangers wat nie daarin kon slaag om misdaad doeltreffend hok te slaan nie. Die vraag is dus nie of sy ’n vrou is nie, maar of sy werklik die politieke wil, leierskap en ruggraat het om te slaag waar ander misluk het.