Die ineenstorting van die skietstilstand tussen die Verenigde State en Iran en die hernude konflik in die Midde-Ooste kan Suid-Afrikaanse huishoudings onmiddellik ekonomies onder druk plaas, waarsku ekonome.
Die waarskuwing volg nadat die Amerikaanse president Donald Trump vandeesweek aan verslaggewers gesê het hy beskou die skietstilstand met Iran as “verby” en met verdere militêre aanvalle in die Midde-Ooste gedreig het.
Dr. Terence McNamee, ‘n senior genoot aan die Montreal-instituut vir Wêreldveiligheid, sê hoewel die konflik om beheer oor die Straat van Hormuz draai, het nie een van die partye ‘n sterk aansporing om na ‘n volskaalse oorlog terug te keer nie.
“Die Verenigde State en Donald Trump bereik die perke van Amerikaanse militêre mag, terwyl die Iranse regime baie meer veerkragtig geblyk het as wat hulle ooit verwag het,” het McNamee gesê.
Hy het gesê die huidige Iranse regime gebruik die Straat van Hormuz as ‘n buitengewone politieke hefboom om druk op sy teenstanders uit te oefen.
Frank Blackmore, hoofekonoom van KPMG Suid-Afrika, het gesê mense vergeet dikwels dat Israel ook sy eie agenda in die konflik het, wat volgens hom ‘n vinnige oplossing minder waarskynlik maak.
“Ons vergeet dikwels dat dit oorspronklik Israel en die VSA se oorlog teen Iran was. Ons het Israel as’t ware op die agtergrond geskuif, maar die land het ook sy eie agenda,” het Blackmore gesê.
Blackmore waarsku dat die eskalerende spanning reeds ekonomiese gevolge begin inhou.
Oliepryse het Woensdag skerp gestyg nadat die VSA gesê het sy aanvalle was ‘n vergelding vir Iran se aanvalle op handelskepe in die Straat van Hormuz die afgelope paar dae.
Volgens Blackmore het vorige stygings in oliepryse dikwels gelei tot ‘n swakker rand, kapitaaluitvloei en hoër inflasie.
Hy het daarop gewys dat Suid-Afrikaanse verbruikers reeds in Mei hoër brandstofpryse en die begin van stygende pryse vir ander goedere ervaar het.
Blackmore waarsku dat langer hoë oliepryse inflasie kan aanwakker, rentekoerse langer hoog kan hou en uiteindelik verbruikersbesteding, sakebeleggings en ekonomiese groei kan demp.