‘n 30-jarige man van Johannesburg het Sondagmiddag tragies in die Gonubierivier verdrink tydens ’n uitstappie saam met vriende, ten spyte van volgehoue pogings om hom te resussiteer.
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die verdrinking Maandag bevestig.
Volgens die NSRI se stasiebevelvoerder in Oos-Londen, Cathrine Prentis, is lewensredders van die Buffalo City Metropolitaanse Munisipaliteit (BCMM), wat aan diens by Gonubiestrand was, omstreeks 14:45 van die voorval in kennis gestel.
“BCMM-lewensredders is deur ’n man wat na hulle gehardloop het, gewaarsku oor ’n verdrinking bykans ’n kilometer stroomop in die Gonubierivier,” het sy gesê.
“Lewensredders het onmiddellik gereageer en terselfdertyd die NSRI in Oos-Londen, Priority Care-ambulansdienste en die Suid-Afrikaanse Polisiediens ontbied.”
Met hul aankoms het lewensredders onmiddellik met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin op ’n volwasse man wat deur ’n plaaslike tiener uit die water gered is.
Paramedici het later by die toneel aangesluit, maar ten spyte van uitgebreide pogings om sy lewe te red, is die man op die toneel dood verklaar.
“Die liggaam van die 30-jarige man van Johannesburg is in die sorg van die polisie en die staatsgesondheidsdepartement se forensiese patologie-eenheid geplaas,” het Prentis gesê.
Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.
“Ons betuig ons innige meegevoel met die familie, vriende en kollegas van die oorledene,” het Prentis bygevoeg.