Cosatu het onlangs verklaar dat Suid-Afrika “vir ewig verskuldig” is aan Chris Hani. Vandag, 33 jaar ná Hani se dood buite sy huis in Boksburg, word hy deur hulle as ’n martelaar van die sogenaamde “stryd teen rassisme” uitgebeeld.
Hani, ’n prominente leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en ’n senior figuur in Umkhonto we Sizwe, was nie bloot ’n “vryheidsvegter” nie, maar ook ’n toegewyde ondersteuner van kommunistiese ideologieë wat histories tot onderdrukking en ekonomiese verval wêreldwyd gelei het.
Die moord op Hani in 1993 deur Janusz Waluś en Clive Derby-Lewis was ongetwyfeld ’n keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis. Beide mans is gearresteer en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Derby-Lewis is later oorlede aan kanker net ná sy vrylating op parool, terwyl Waluś in 2022 na Pole teruggekeer het. Tog bly die fokus op dié gebeure dikwels beperk tot ’n simplistiese “goed teen kwaad”-verhaal, sonder om die breër politieke konteks objektief te ontleed.