TSHWANE – Die Akademie vir Gevangenisse en Korrektiewe Administrasie (ACPA) van Indië het Suid-Afrika se geïntegreerde benadering tot korrektiewe dienste geloof ná ‘n besoek aan die Kgosi Mampuru II Korrektiewe Sentrum in Tshwane.
Die besoek het Sondag plaasgevind as deel van ‘n maatstafvergelykingsbesoek waartydens die Indiese afvaardiging en die Departement van Korrektiewe Dienste kennis gedeel en beste praktyke uitgeruil het.
Die gesprekke het onder meer gefokus op die bestuur van korrektiewe sentrums, rehabilitasieprogramme, veiligheidsprotokolle en die herintegrasie van oortreders in die gemeenskap.
Tydens die besoek het die afvaardiging opleidingsprogramme vir oortreders waargeneem wat daarop gemik is om hulle met praktiese vaardighede toe te rus vir hul terugkeer na die gemeenskap.
Die besoekers het ook die maksimumsekuriteitsafdeling van die Kgosi Mampuru II Korrektiewe Sentrum besoek.
Volgens die Departement van Korrektiewe Dienste het die Indiese afvaardiging Suid-Afrika se geïntegreerde benadering tot korrektiewe administrasie geloof.
Die departement sê die besoek sal na verwagting kennisuitruiling bevorder, internasionale samewerking versterk en bydra tot die verdere ontwikkeling van korrektiewe dienste in albei lande.
Boer24 kan maar net sê: “Sjoe!”