Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (ICASA) het SpaceX formeel aangesê om die ongemagtigde verskaffing en bedryf van Starlink-dienste in Suid-Afrika te staak.

Starlink, die satellietinternetdiens van Elon Musk se SpaceX, is nie gelisensieer om elektroniese kommunikasiedienste in Suid-Afrika te lewer nie.

Minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het in ’n parlementêre antwoord bekend gemaak dat ICASA op 14 Oktober 2026 ’n formele kennisgewing van nie-nakoming aan SpaceX uitgereik het.

Die kennisgewing eis dat SpaceX die ongemagtigde verskaffing en bedryf van Starlink-dienste in Suid-Afrika staak.

ICASA ondersoek reeds sedert 2025 bewerings dat Starlink-dienste sonder die nodige magtiging in Suid-Afrika gebruik en verskaf word.

Die reguleerder het SpaceX op 21 Mei 2025 om duidelikheid gevra oor berigte dat die diens plaaslik gebruik word. SpaceX het daarna gesê hy het maatreëls ingestel om ongemagtigde toegang in Suid-Afrika te beperk en teen ongemagtigde herverkopers op te tree.

Ná verdere berigte van moontlike ongemagtigde gebruik het ICASA ’n toegewyde taakspan saamgestel en verdere ondersoeke en inspeksies gedoen.

Malatsi sê ICASA se handhawingsproses duur voort en dat verdere administratiewe of regstappe oorweeg kan word indien die getuienis dit regverdig.

ICASA-woordvoerder Ramasela Matlou het ook bevestig dat Suid-Afrikaanse wetgewing die verskaffing van elektroniese kommunikasiedienste sonder die nodige magtiging verbied.

Volgens haar word daar van Starlink verwag om tegniese en operasionele maatreëls in plek te stel om te voorkom dat sy dienste ongemagtig in Suid-Afrika verskaf word.

Indien die ongemagtigde verskaffing voortduur, kan ICASA verdere regulerende stappe oorweeg, insluitend ’n formele klag by die Internasionale Telekommunikasie-unie.

Starlink is nog nie amptelik in Suid-Afrika geloods nie, maar sommige gebruikers het die diens deur toerusting en rekeninge uit ander lande gebruik.

Die diens se “roamig”-opsie is deur sommige gebruikers benut om terminale wat elders geregistreer is, vanuit Suid-Afrika te gebruik. SpaceX het dié gebruik egter toenemend begin beperk.

Tegnologiekenners wys daarop dat satellietdienste moeiliker is om binne landsgrense af te dwing omdat die seine direk vanaf satelliete na terminale op die grond gestuur word.

ICASA kan egter ongemagtigde toerusting ondersoek, installasies inspekteer en regulerende stappe neem teen dienste wat sonder die nodige goedkeuring bedryf word.