Suid-Afrika se belasting op suikerversoete drankies het ná agt jaar nog nie ’n daling in vetsugsyfers meegebring nie, terwyl die suikerbedryf meen die beleid het ’n swaar ekonomiese prys geëis.

’n Nuwe internasionale beleidsstudie oor suikerbelasting bevraagteken die aanname dat belasting op suiker op sigself genoeg is om vetsug en verwante siektes betekenisvol terug te dring.

Volgens data van die Wêreldgesondheidsorganisasie het vetsug onder Suid-Afrikaanse volwassenes van sowat 30,1% in 2018 tot ongeveer 31,8% in 2024 gestyg. In dieselfde tyd het die aantal sterftes weens diabetes van 26 880 tot 28 767 gestyg, terwyl hoë bloeddruk ongeveer een uit elke drie volwassenes raak.

Dit staan in kontras met die doel van die gesondheidsbevorderingsheffing, oftewel suikerbelasting, wat in April 2018 ingestel is om die verbruik van suikerhoudende drankies te beperk en vervaardigers aan te moedig om minder suiker te gebruik.

Die heffing het sedert sy instelling miljarde rande aan inkomste vir die staat opgelewer. Dié inkomste word nie uitsluitlik vir gesondheidsdienste aangewend nie.

Ekonomiese druk op die suikerbedryf

Die Suid-Afrikaanse suikerbedryf voer aan dat die belasting nie net ’n gesondheidsvraagstuk is nie, maar ook ernstige gevolge vir werk, produksie en landelike ekonomieë gehad het.

’n Ekonomiese studie wat aan Nedlac voorgelê is, het geraam dat indiensneming in die bedryf in 2019 sowat 16 621 poste laer was as wat dit sonder die heffing sou gewees het. Die studie het ook ’n afname van meer as 250 000 ton in suikerverkope en ’n inkomsteverlies van sowat R1,2 miljard per jaar geraam.

Die Suid-Afrikaanse Suikervereniging, Sasa, skryf ook die sluiting van twee suikermeulens in KwaZulu-Natal in 2020 aan die belasting toe. Volgens die vereniging ondersteun die suikerwaardeketting na raming een miljoen mense se lewensbestaan en kos die belasting die bedryf steeds minstens R1,2 miljard per jaar.

’n Studie wat in 2022 deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, in opdrag van die Suid-Afrikaanse Rietkwekersvereniging, gedoen is, het gewaarsku dat ’n voortgesette belasting verdere druk op die sektor kan plaas. Die navorsing het geraam dat nog sowat 16 000 werksgeleenthede en 46 600 hektaar suikerriet teen 2032 in gevaar kan wees indien die heffing op sy huidige vlak bly.

Navorsers vra vir ’n breër benadering

Sasa verwys nou na ’n nuwe internasionale beleidsstudie wat suikerbelasting in meer as ’n dosyn lande ondersoek.

Die dokument, Understanding Sugar: Beyond the Narrative – A Policy Framework for Smarter Prevention, Positive Nutrition, and Consumer Empowerment, is mede geskryf deur Pietro Paganini van Temple Universiteit se Fox School in Philadelphia.

Die navorsers voer aan dat vetsug nie aan een enkele voedingsbestanddeel toegeskryf kan word nie. Volgens hulle speel dieet, fisieke aktiwiteit, stres, slaap, omgewing en genetiese faktore almal ’n rol.

Hoewel suikerbelasting volgens die studie wel verbruikersgedrag kan beïnvloed en vervaardigers kan aanspoor om produkte te herformuleer, is daar volgens die navorsers beperkte bewyse dat dié veranderinge op lang termyn ’n duidelike verbetering in gesondheidsuitkomste meebring.

Hulle wys ook daarop dat die verkope van belasbare drankies in verskeie lande gedaal het sonder dat vetsug en diabetes noodwendig dieselfde afwaartse neiging gevolg het.

Die navorsers meen beleid behoort daarom volgens werklike gesondheidsuitkomste beoordeel te word en nie bloot volgens veranderings in pryse of verkope nie. Hulle beveel groter fokus op voedingsopvoeding, porsiegroottes, gebalanseerde eetgewoontes en fisieke aktiwiteit aan.

Sasa se uitvoerende direkteur, Sifiso Mhlaba, sê dié benadering stem ooreen met die bedryf se standpunt dat openbare gesondheidsbeleid mense eerder moet bemagtig om beter keuses te maak as om hoofsaaklik op belasting en regulering staat te maak.

Die vereniging glo ook dat ’n meer stabiele beleidsomgewing die suikerbedryf ruimte sal gee om na alternatiewe produkte, waaronder bio-etanol vir brandstof, uit te brei.

Sasa wag intussen op die uitslae van die departement van gesondheid se nasionale voedselinname-opname. Die bedryf hoop dat dié navorsing ’n duideliker beeld sal gee van die belangrikste oorsake van Suid-Afrika se vetsugprobleem.