Deur Gideon Grom
Ek vermoed die son behoort solank sy dokumente reg te kry. Bewys van adres gaan lastig wees, maar die werklike probleem sal sy motiveringsverslag wees: verduidelik asseblief hoe môreoggend se sonsopkoms historiese ras- en geslagsdiskriminasie gaan regstel. Sonder dié aanhangsel bly die ooste ongelukkig gesluit.
Dit klink na ’n grap. Met water raak die administratiewe verbeelding egter al hoe indrukwekkender.
Daar word berig dat AfriForum ’n verpligte vereiste op die departement van water en sanitasie se aanlyn lisensiestelsel bevraagteken. Volgens die organisasie moet aansoekers ’n verslag indien wat aantoon hoe hul voorgestelde watergebruik historiese ras- en geslagsdiskriminasie sal regstel. Sonder die dokument kan hulle glo nie verder met die aansoek gaan nie. AfriForum het die minister om verduideliking gevra; die berig bevat nie haar antwoord nie.
Die mielie se behoefte aan water is betreklik eenvoudig. Die behoefte van ’n staatsvorm aan bevrediging is ’n veel ingewikkelder wetenskap.
Nou kyk, die eerste ding wat ons moet onthou, is dat geen minister die reën uitgedink het nie. Geen departement het die eerste wolk ontwikkel nie. Water het reeds afdraand geloop lank voordat iemand ’n strategiese werkswinkel oor die rigting daarvan aangebied het.
Die staat se wetlike rol verdien tog presiese taal. Ingevolge die Nasionale Waterwet tree die regering as openbare trustee van die land se waterbronne op, met bevoegdhede om watergebruik te reguleer. Dit dra ’n verantwoordelikheid teenoor die publiek. Die minister het nie persoonlik die skeppingsakte van die Oranjerivier in haar onderste lessenaarlaai nie.
’n Mens verwag van so ’n bewaarder om die hulpbron behoorlik te bestuur. Sodra die bewaarder begin optree asof toegang ’n guns uit sy persoonlike boedel is, behoort die begunstigdes regop te sit.
Daar is goeie redes vir waterbestuur. As die man stroomop alles uitpomp, help dit die man stroomaf min dat daardie water uiteindelik weer êrens op aarde gaan opdaag. Sy beeste kan nie tot volgende winter wag vir ’n donderstorm in ’n ander provinsie nie.
Die waterkringloop is werklik. Dit waarborg egter nie dat gebruikte water betyds, skoon en op dieselfde plek terugkeer nie. Daarom is onwettige onttrekking nie vanself onskadelik bloot omdat water na die omgewing terugkeer nie. Hoeveel jy neem, wanneer jy dit neem en wat jy teruglaat, maak saak.
Ek wil juis hê die departement moet daardie dinge meet. Daarvoor het ons waterkundiges nodig. Die rivier se vloeitempo behoort darem meer aandag te kry as die politieke gewig van die aanhangsels.
Artikel 27 maak voorsiening vir verskeie oorwegings wanneer watergebruik gemagtig word. Regstelling van historiese ras- en geslagsdiskriminasie is inderdaad een daarvan. AfriForum se beswaar is dat regstelling volgens hom nou as ’n voorafgaande toegangsdrempel gebruik word. Daardie regsbeswaar moet behoorlik beantwoord word. ’n Vereiste op ’n rekenaarskerm kry nie sommer parlementêre gesag omdat iemand dit met ’n rooi sterretjie gemerk het nie.
Dink aan die beginsel. ’n Onderneming kan moontlik bewys dat hy water spaarsaam gebruik, mense werk gee en die bron verantwoordelik benut. Indien sy aansoek reeds by die elektroniese voordeur vassteek, wanneer word daardie meriete dan oorweeg?
Die stelsel kan natuurlik altyd rapporteer dat geen aansoek afgekeur is nie. Hoe gerieflik wanneer die aansoek nooit ingekom het nie. Só kry ’n geslote deur ’n uitstekende prestasiebeoordeling.
Help nuwe boere (moenie swart hier iewers inlees nie – dan raas jou kop) met opleiding, werkende infrastruktuur, toegang tot finansiering en administrasie wat hulle kan verstaan. Skep die omstandighede waarin mense werklik kan produseer. ’n Staatsvorm is ’n besonder swak plaaswerktuig; jy kan hom lamineer, maar hy ploeg steeds niks.
My beswaar teen ras as administratiewe hekwagter is eenvoudig: dit kan die verkeerde vraag heel eerste stel. Ons behoort te vra wat ’n watergebruik vir mense, produksie en die bron beteken. Die mens wat ’n loon nodig het, kan nie sy kruideniersrekening met die departement se goeie bedoelings betaal nie.
En die staat behoort elke beperking helder te kan verduidelik. Watter wetsbepaling? Watter doel? Watter bewys? Watter geleentheid om die besluit te betwis? Burgers hoef nie dankbaar te wees omdat ’n portaal hulle uiteindelik toelaat om vir oorweging te vra nie.
Vandag praat ons oor water. Môre kan ’n besonder ondernemende beleidskomitee dalk ontdek dat sonlig ook ongelyk op eiendomme val. Dan kry ons ’n Direktoraat vir Billike Skaduwee, met ’n adjunkdirekteur vir middagstrale en ’n konsultant wat fotosintese in ’n transformasieraamwerk moet plaas.
Die son sal natuurlik aanhou skyn. Hy het nog nooit veel respek vir kantoorure gehad nie.
Maar indien Pretoria eendag ook sonskyn wil lisensieer, vra ek net een vergunning: laat die politici se sonlisensies eerste verval.
Hulle staan buitendien lank genoeg in ons lig.