’n 21-jarige vryduiker het ’n reuse-leeumaanjellievis langs die kus van Wallis teëgekom wat volgens sy skatting tussen 10 en 15 meter lank was.
Iestyn Morgan, ’n natuurbewaarder van Pembrokeshire, het naby Trefin-strand geswem toe hy die jellievis se tentakels in die water opgemerk het. Dit was die eerste keer dat hy ’n leeumaanjellievis in Walliese waters gesien het.
Morgan het aanvanklik net enkele tentakels opgemerk.
“Drie het tien geword, en toe 20. Hulle het net bly kom,” het hy oor die ontmoeting gesê.
Die tentakels het volgens Morgan uiteindelik verder gestrek as wat hy onder die water kon sien.
“Dit moes so lank soos ’n bus of klein trein gewees het. Ek kon nie glo hoe groot dit was nie,” het hy gesê.
Morgan het aanvanklik gedink dit is ’n kompasjellievis, wat natuurlik in Britse waters voorkom, voordat die buitengewone grootte hom laat besef het dat dit ’n leeumaanjellievis is.
Van die langste diere ter wêreld
Volgens die Wildlife Trusts kry die leeumaanjellievis sy naam van sy besonder lang tentakels. Die jellievis kan tot sowat drie meter lank word, terwyl sy tentakels selfs langer as 30 meter kan word en in sommige gevalle 36,5 meter kan oorskry. Dit maak die spesie een van die langste diere op aarde.
Dr. Cathy Lucas, ’n mariene bioloog aan die Universiteit van Southampton, sê Morgan se beeldmateriaal toon hoe buitengewoon lank die tentakels kan wees.
Die tentakels is volgens haar só lank en fyn dat ’n swemmer of duiker hulle moontlik nie eens sal raaksien nie. Afgebreekte stukke kan boonop steeds steek.
Lucas beskryf die steek van ’n leeumaanjellievis as onaangenaam en die ergste onder jellievisse in Britse waters, maar sê dit is nie gevaarlik nie.
Sy raai mense aan om nie aan die diere te raak nie. Indien ’n stuk tentakel aan iemand se vel vaskleef, moet dit volgens haar met ’n stok afgevee en die betrokke plek met warm water gewas word.
Meer algemeen in kouer waters
Leeumaanjellievisse kom meer algemeen in die kouer waters rondom Skotland voor. Volgens Lucas toon waarnemings wat deur lede van die publiek aangemeld is egter dat hulle soms later in die somer of gedurende die herfs die Walliese kus bereik.
Morgan meen mense behoort dankbaar te wees dat dié jellievisse ook in Wallis voorkom en sê hulle is nie die “groot, vreesaanjaende monsters” wat sommige mense dalk dink nie. Hy waarsku egter dat swemmers beslis nie in een wil vas swem en gesteek word nie.
Morgan sê hy sien al hoe meer jellievisse wanneer hy in Walliese waters verfilm. Volgens sy eie waarnemings raak spesies wat met warmer water verbind word ook meer volop.
Hy beklemtoon egter dat hy nog nie genoeg somers se waarnemings het om ’n behoorlike vergelyking te tref nie. Morgan sê hy het ’n paar weke tevore ook ’n snellervis (triggerfish), wat volgens hom inheems aan die Middellandse See is, met ’n kamera afgeneem.
Morgan maak beeldmateriaal van seelewe vir sosiale media om bewustheid te skep van die bedreigings wat die seelewe en mariene omgewing in die gesig staar. Hy sê sy doel is om die onderwaterwêreld vir meer mense toeganklik te maak sonder om die diere te benadeel.
“Ek klim net in die water, verfilm en swem,” het hy gesê.