LONDEN – Brittanje sal Donderdag ’n virtuele vergadering met sowat 35 lande hou om te bespreek hoe die strategiese Straat van Hormuz, wat deur die oorlog in die Midde-Ooste ontwrig is, heropen kan word.
Eerste minister Keir Starmer het die vergadering vroeër Woensdag aangekondig, terwyl ’n Britse amptenaar aan AFP bevestig het dat dit aanlyn sal plaasvind.
Die Britse minister van buitelandse sake, Yvette Cooper, sal die gesprekke lei, het Starmer tydens ’n nuuskonferensie in Downingstraat gesê.
Die vergadering sal fokus op die evaluering van alle haalbare diplomatieke en politieke maatreëls om vrye seevaart te herstel, die veiligheid van vasgekeerde skepe en seevaarders te verseker, en die vloei van noodsaaklike handelsgoedere te hervat.
“Na afloop van die vergadering sal ons ook militêre beplanners byeenbring om te bepaal hoe ons ons vermoëns kan aanwend om die seestraat weer toeganklik en veilig te maak sodra die gevegte beëindig is,” het hy bygevoeg.
Die gesprekke sal lande insluit wat onlangs ’n verklaring onderteken het waarin hulle hul bereidwilligheid uitgespreek het om by te dra tot pogings om veilige deurgang deur die Straat van Hormuz te verseker.
Onder dié lande tel Brittanje, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan en Nederland.
‘Dit sal nie maklik wees nie’
Iran het die belangrike seestraat feitlik gesluit sedert die VSA-Israeliese aanvalle wat die oorlog op 28 Februarie ontketen het, wat wêreldwye olie- en gaspryse laat styg het.
Ongeveer ’n vyfde van die wêreld se olie en vloeibare aardgas beweeg in vredestye deur dié seestraat.
“Ek moet eerlik wees – dit sal nie maklik wees nie,” het Starmer gesê.
Die Britse leier het ook sy steun aan NAVO herbevestig ná hernude kritiek op die meer as 80 jaar oue militêre alliansie deur die Amerikaanse president Donald Trump.
“NAVO is die mees doeltreffende militêre alliansie wat die wêreld nog gesien het. Dit het ons vir dekades veilig gehou, en ons bly ten volle daartoe verbind,” het Starmer gesê.
Trump het Woensdag in ’n onderhoud met die Britse koerant The Telegraph NAVO as ’n “papier-tier” beskryf.
Toe hy gevra is of hy die VSA se lidmaatskap sou heroorweeg, het hy glo geantwoord dat dit “beslis oorweeg kan word”.
Verlede maand het Trump aan die Financial Times gesê dit sou “baie nadelig vir NAVO se toekoms wees” indien lidlande nie help om die belangrike seestraat weer oop te stel nie.
Hy het Dinsdag verder gesê lande wat nie by die oorlog betrokke is nie, maar met brandstoftekorte sukkel, moet “hul eie olie gaan haal” in die Straat van Hormuz, en bygevoeg dat die VSA hulle nie sal help nie.