Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) het ’n styging in damvlakke in die Wes-Kaap ná onlangse reën verwelkom.
Die provinsiale waterberging het tot 44,27% toegeneem, vergeleke met 42,18% die vorige week. Die Wes-Kaapse Watervoorsieningstelsel (WCWSS), wat die Stad Kaapstad bedien, het intussen van 44,51% tot 47,16% gestyg.
Vyf van die ses groot damme in die Kaapse stelsel, insluitend Theewaterskloofdam, het met tussen een en twee persentasiepunte gestyg. Die Opper-Steenbrasdam het egter ’n geringe afname van net minder as een persentasiepunt getoon.
Die Wes-Kaap is grootliks afhanklik van winterreën om sy damme aan te vul. Die WCWSS is ’n uitgebreide netwerk van damme en pypleidings wat water voorsien aan meer as vier miljoen inwoners, asook die streek se belangrike landbousektor.
Die waarnemende provinsiale hoof van die DWS in die Wes-Kaap, Simphiwe Mashicila, het die styging verwelkom, maar terselfdertyd gewaarsku dat water steeds spaarsaam gebruik moet word.
“Elke druppel wat ons ontvang, is goeie nuus, maar dit is nog nie rede tot feesviering nie. Weerkundiges voorspel nog reënbuie volgende week, en ons bly optimisties dat die situasie verder sal verbeter namate die winter nader kom,” het Mashicila gesê.
Hy het bygevoeg dat die stelsel tans funksioneer soos verwag vir hierdie tyd van die jaar, maar dat daar steeds besondere aandag aan die Knysna-gebied gegee word om watersekerheid te verseker.
“Knysna se hoofdam, Akkerkloof, is tans op 23%, maar die vier hoofreservoirs is gemiddeld sowat 90% vol,” het hy gesê.
Die departement sal voortgaan om damvlakke en reënvalvooruitsigte noukeurig te monitor en die situasie in aanloop tot die winterseisoen hersien. Mashicila het inwoners aangemoedig om water spaarsamig te gebruik, aangesien reënvalvooruitskattings steeds onseker bly.