Jonger verbruikers, vroue en middelinkomsteverdieners ervaar volgens ’n nuwe opname die grootste finansiële druk. Skuldterugbetalings en stygende lewenskoste plaas toenemende druk op huishoudelike finansies.

DebtBusters se 2026 Money Stress Tracker, waaraan meer as 18 000 mense deelgeneem het, toon dat 72% van die respondente vanjaar spanning oor hul geldsake ervaar.

Meer as die helfte van die deelnemers bestee boonop meer as 40% van hul netto inkomste aan skuldterugbetalings.

Die opname, wat nou in sy vyfde jaar is, toon dat die druk nie alle groepe ewe swaar tref nie. Jonger mense, vroue en middelinkomsteverdieners word uitgesonder as die groepe wat die grootste finansiële druk ervaar.

Driekwart van jonger mense gespanne oor geld

Die syfers onder jonger respondente is opvallend. Driekwart van die deelnemers jonger as 35 het aangedui dat hulle angstig of gespanne oor hul finansies is.

Onder respondente van 24 jaar en jonger was finansiële spanning 18% hoër as verlede jaar, met skuldterugbetalings en stygende lewenskoste wat besondere kommer wek.

Vroue het, soos in vorige jare, ook aansienlik meer finansiële spanning as mans gerapporteer. Spanning oor hul huislike lewe het vanjaar ’n vyfjaarhoogtepunt bereik.

Hoewel middelinkomsteverdieners saam met jonger mense en vroue as een van die groepe onder die grootste druk geïdentifiseer word, verskaf die opname nie ’n afsonderlike persentasie vir dié inkomstegroep nie.

Meer as 40% van inkomste gaan aan skuld

Skuldverpligtinge neem ’n groot deel van talle respondente se beskikbare inkomste in beslag. Meer as die helfte van die deelnemers sê hulle bestee meer as 40% van hul netto inkomste aan skuldterugbetalings.

Ná twee jaar waarin rentekoerse die vernaamste drywer van finansiële kommer was, het meer onmiddellike bekommernisse oor lewenskoste vanjaar sterker na vore getree.

Respondente is veral bekommerd dat hul geld voor die volgende betaaldag sal opraak en dat hulle nie genoeg sal hê om hul skuldverpligtinge na te kom nie.

Kommer oor inflasie en lewenskoste het met byna ’n derde toegeneem, terwyl kommer oor elektrisiteitskoste 99% hoër as verlede jaar was.

Geldsorge raak ook huis, werk en gesondheid

Die gevolge van finansiële spanning strek volgens die opname verder as huishoudelike begrotings.

Van die respondente wat finansiële spanning ervaar, sê 92% dat dit hul huislike lewe beïnvloed. Sowat 76% sê hul werkslewe word geraak, terwyl 75% ’n uitwerking op hul gesondheid ervaar.

Huislike spanning het vanjaar 42% bereik – meer as ’n derde hoër as in 2025 en die hoogste vlak sedert die opname in 2022 begin het.

Benay Sager, uitvoerende bestuurder by DebtBusters, benadruk dat die mense wat aan die opname deelgeneem het nie tans onder skuldberading is nie.

Respondente probeer volgens die opname op verskillende maniere groter beheer oor hul finansies kry, onder meer deur begrotings op te stel, bykomende inkomstemoontlikhede te ondersoek en professionele hulp met skuld te kry.