Daar is verdere goeie nuus vir Ashley Oosthuizen en haar familie.
Thailand het ’n koninklike kwytskelding aangekondig ter viering van koningin Suthida se verjaardag. Die besluit raak duisende gevangenes landwyd en Ashley is onder dié wat daarby baat vind.
Na raming sal sowat 80 000 gevangenes voordeel trek uit die kwytskelding. Sommige sal vroeër vrygelaat word, terwyl ander se vonnisse verkort word.
Vir Ashley beteken dit dat haar wagtyd agter tralies verder verkort word.
Hoeveel strafvermindering elke gevangene ontvang, word deur Thaise owerhede bepaal. Faktore soos goeie gedrag, die aard van die oortreding en die tyd wat reeds uitgedien is, speel ’n rol.
Ashley se ma, Lynn Blignaut, sê die gesin is dankbaar vir almal wat hulle deur die jare ondersteun het.
“Ons bly innig dankbaar teenoor elke persoon wat vir ons gebid het, bemoedigende boodskappe gestuur het, finansiële steun gebied het, Ashley se verhaal gedeel het en die afgelope jare by ons gestaan het.”
Sy het ook haar waardering uitgespreek teenoor die mense wat steeds die gesin ondersteun.
“Dankie dat julle steeds hierdie pad saam met ons stap.”