Die landbou-organisasie TLU SA het verlede Vrydag ’n suksesvolle Jongboerkonferensie in Pretoria aangebied waar jong boere van regoor die land bymekaar gekom het om oor die toekoms van landbou te besin.
Die konferensie het gefokus op die uitdagings en geleenthede wat jong boere in Suid-Afrika ervaar, asook die belangrike rol wat hulle in die land se voedselsekerheid speel.
Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het ook die geleentheid bygewoon en die jong boere toegespreek. In sy toespraak het hy beklemtoon dat die uitdagings wat landbou ervaar, nie in isolasie plaasvind nie, maar deel vorm van ’n breër spektrum van nasionale uitdagings wat verskeie sektore raak.
Groenewald het veral die slagspreuk van TLU SA, naamlik dat “die boer se stryd almal se stryd is”, uitgelig. Volgens hom raak die voortbestaan van landbou nie net boere nie, maar elke Suid-Afrikaner wat afhanklik is van voedselproduksie en ’n stabiele landbou-ekonomie.
Hy het ook sy bewondering uitgespreek vir die vasberadenheid van jong boere wat, ten spyte van moeilike omstandighede, elke dag opstaan en aanhou boer.