’n Forensiese patoloog het in die hooggeregshof in Pretoria getuig oor die ernstige beserings wat ’n 81-jarige man en sy 78-jarige vrou tydens ’n aanval op hul hoewe te Louwsbaken, Cullinan, opgedoen het. Dirk Kritzinger is dood, terwyl sy vrou, Sarie, ernstig beseer is.
Andries Komane Sello staan tereg op aanklagte van moord op Dirk en poging tot moord op Sarie. Die egpaar is ook tydens die aanval op hul hoewe beroof.
Sello het vroeër skuld ontken.
Die staat het Maandag die lykskouingsverslag oor Dirk en mediese verslae rakende Sarie as bewysstukke ingedien.
Volgens die verslag van dr. Paul Lombard, ’n forensiese patoloog, was Dirk se hande agter sy rug vasgebind met draad wat deur die vel gesny het.
Lombard het ook tekens van moontlike pogings tot verwurging aan Dirk se nek gevind.
Die bejaarde man het omvattende kneusings aan sy gesig, kop, skouers, boarms en rug gehad. Volgens die verslag is dié beserings deur herhaalde stompgeweld-trauma veroorsaak.
Daar was geen beserings weens selfverdediging aan Dirk nie. Sy boonste valstande was ook nie in sy mond nie.
Sy kopvel was weens onderhuidse bloeding geswel. Hy het ’n fraktuur aan die basis van sy skedel en bloeding op die brein gehad, terwyl sy oogkaste, neuskanale en oorholtes geswel was.
’n Mediese skets wat as bewysstuk ingedien is, het aangedui dat Dirk se hele rug en nek vol kneusings was.
Die uiteindelike oorsaak van sy dood is as stompgeweld teen die kop aangedui.
Dirk is op 20 Julie 2024 reeds dood op die vloer van sy huis aangetref.
Henk Jansen van Rensburg het vroeër in die moordverhoor getuig dat hy buite Dirk se huis, op die gras voor die motorhuis, “plasse bloed” gevind het.
Dirk se valstande en skoene het volgens sy getuienis netjies in die gras gelê. Dit was ’n aanduiding dat die kleinhoewe-eienaar vermoedelik reeds daar herhaaldelik gewelddadig aangerand is.
Hy is daarna vermoedelik die huis binnegedwing, waar Sarie was.
Dirk was só erg aangerand en geswel dat Jansen van Rensburg volgens sy vroeëre getuienis aanvanklik nie besef het dat dit ’n mens se liggaam was wat op die vloer gelê het nie.
Sarie is nadat sy gevind is na ’n hospitaal geneem.
Volgens haar mediese verslag is sy die oggend van 20 Julie ondersoek. Die dokter het aangeteken dat haar wonde moontlik reeds twee tot drie dae oud was.
Die verslag beskryf haar as “emosioneel en getraumatiseerd”.
Sy het veelvuldige kneusings aan haar gesig en albei oë, asook aan haar kopvel, gehad. Volgens die mediese verslag het dié beserings met ’n aanranding met ’n stomp voorwerp ooreengestem.
Daar was ook merke aan albei haar gewrigte waar sy vermoedelik vasgebind was.
’n CT-skandering het bloeding en swelling aan die regterkant van haar brein getoon. Sy het ook verskeie frakture in haar gesig gehad, waaronder aan haar regterwangbeen, bokaak en oogkas.
Die hof het gehoor dat die Kritzingers ten tyde van die aanval op die punt was om die hoewe te verkoop.
Die staat het ná die indiening van die lykskouingsverslag en mediese getuienis sy saak gesluit.
Die verhoor is uitgestel sodat die verdediging sy saak kan stel.