Woolworths het ’n nuwe, meer luukse voorkoms vir sy kafee by die V&A Waterfront in Kaapstad bekendgestel en aangekondig dat al sy WCafés landwyd voortaan as Woolies Café bekend sal staan.
Die V&A Waterfront-tak is die eerste om die nuwe ontwerp en handelsnaam te kry en sal as die vlagskip van Woolworths se kafee-aanbod dien.
Ma-aveyah Moos, Woolworths se handelshoof vir voedseldienste, sê die nuwe kafee is die eerste stap in ’n landwye verandering.
Volgens Moos moet ’n goeie kafee mense ’n rede gee om stil te hou én om terug te keer, hetsy vir hul daaglikse koffie, ’n ete of bloot ’n plek om ’n paar rustige minute deur te bring.
Die nuwe ontwerp is gegrond op ’n benadering wat Woolworths “nature’s playground” noem.
Die kleure, vorms en teksture is deur die natuur geïnspireer en is volgens die handelaar ontwerp om ’n rustige, bekende gevoel met iets nuuts en speels te kombineer.
Die verandering van WCafé na Woolies Café sluit volgens Moos ook beter aan by die naam wat baie klante reeds informeel vir die handelsmerk gebruik.
“Die Woolies-naam beteken reeds iets vir ons klante en Woolies Café bou op daardie verbintenis,” het hy gesê.
Volgens hom is dit ’n natuurlike volgende stap vir die handelsmerk, met die V&A Waterfront-tak wat die eerste voorsmakie van die nuwe Woolies Café-rigting bied.
Woolworths beplan om die nuwe naam en voorkoms geleidelik na sy ander kafees regoor Suid-Afrika uit te brei.