Betogers het ’n Ebola-behandelingsentrum in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo aan die brand gesteek nadat hulle verhinder is om die liggaam van ’n vermoedelike Ebola-slagoffer vir begrafnis weg te neem.
Die voorval het Donderdag in Rwampara in die Ituri-provinsie plaasgevind, een van die gebiede wat die swaarste deur die jongste Ebola-uitbreking getref word. Video’s op sosiale media wys hoe rook en vlamme uit die sentrum opstyg terwyl geweerskote in die agtergrond gehoor kan word.
Volgens ’n ooggetuie het plaaslike jongmense kwaad geword nadat hulle probeer het om die liggaam van ’n vriend, wat vermoedelik aan Ebola dood is, terug te neem. Die polisie het probeer ingryp, maar kon glo nie die situasie onder beheer bring nie.
’n Joernalis het gesien hoe mense die sentrum binnestorm en voorwerpe aan die brand steek. Daar was ook glo minstens een liggaam van ’n vermoedelike Ebola-slagoffer in die gebou. Hulpwerkers moes inderhaas vlug.
Die regeringswoordvoerder, Patrick Muyaya, sê ses pasiënte wat tydens die onrus vermis geraak het, is later opgespoor en ontvang nou behandeling by ’n plaaslike hospitaal.
Hy sê veiligheidsmaatreëls is verskerp en dat die situasie intussen bedaar het. Inwoners is gevra om die voorskrifte van Ebola-noodspanne te gehoorsaam.
Gesondheidsowerhede waarsku dat die liggame van Ebola-slagoffers steeds hoogs aansteeklik kan wees en daarom streng volgens gesondheidsreëls hanteer moet word.
Die Demokratiese Republiek die Kongo het die jongste Ebola-uitbreking op 15 Mei aangekondig. Dit is die land se 17de Ebola-uitbreking sedert die virus in 1976 daar ontdek is.
Tot dusver is 160 vermoedelike sterftes en 671 vermoedelike gevalle aangemeld, hoofsaaklik in die Ituri- en Noord-Kivu-provinsies. Nuwe gevalle is ook reeds in Suid-Kivu aangeteken.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die Ebola-uitbreking in die DRK en Uganda as ’n internasionale gesondheidsnood verklaar, maar sê dit voldoen nog nie aan die vereistes van ’n wêreldwye pandemie nie.
Uganda het reeds twee bevestigde gevalle aangemeld, waarvan een persoon gesterf het. Die Verenigde State het intussen reisbeperkings ingestel vir mense wat onlangs die DRK, Uganda of Suid-Soedan besoek het.