Die 84-jarige Hester Esterhuizen het in die streekhof in Bronkhorstspruit getuig oor die traumatiese plaasaanval waarin sy glo ure lank deur vyf aanvallers mishandel, gebrand en beroof is.
Die aanval in die vroeë oggendure van 4 November 2021 plaasgevind toe gemaskerde mans haar in haar slaapkamer oorval het.
Sy het die hof vertel hoe die aanvallers haar deur die huis gesleep het terwyl hulle geld en vuurwapens geëis het. Gedurende die aanval het hulle herhaaldelik ’n flitslig in haar oë geskyn, haar rondgeruk en haar hande en voete met ’n blaasvlam gebrand.
Volgens die klagstaat het die mans haar ook met warm water gebrand in ’n poging om haar te dwing om inligting oor geld en vuurwapens te verskaf.
Esterhuizen het gesê die aanvallers het die grootste deel van die nag in haar huis deurgebring. “Hulle het my begin rondpluk en van vertrek tot vertrek geneem. Hulle het geld en vuurwapens gesoek.”
Sy het aan die hof gesê dat sy gedurende die aanval slegs R1 700 kontant in die huis gehad het.
Nadat die aanvallers die geld gevind het, het hulle haar in die badkamer toegesluit voordat hulle die huis sistematies geplunder het. “Ek is mishandel deur hulle. Al my kamers was in chaos en hulle het die meeste van my besittings gevat,” het Esterhuizen getuig.
Teen ongeveer 04:30 het haar huiswerker haar kom “help”, maar teen daardie tyd was die aanvallers reeds weg.
Hulle het onder meer met Esterhuizen se Ford Ranger-bakkie, ’n televisie, kombuisware, ’n rekenaar, ’n wasmasjien, klere, kroegstoele, tuingereedskap, ornamente, juweliersware en meubels, insluitend ’n rusbank, gevlug.
Esterhuizen het destyds geglo haar huiswerker is moontlik ook ’n slagoffer van die aanval nadat sy nie van hom gehoor het nie.
Die hof het gehoor dat Esterhuizen alleen op die plaas gewoon het nadat haar man weens Alzheimer se siekte in ’n versorgingstehuis opgeneem is. Haar huiswerker en dié se kêrel het langs die hoofhuis geslaap.
Vyf beskuldigdes staan tereg
Thando Martha Mtsweni, Bafana Sydwel Maloba, Thami Walter Masondo, Koos Mabula en John Calvin Magata staan tereg op aanklagte wat verband hou met die aanval.
Hulle ontken skuld op aanklagte van sameswering om roof met verswarende omstandighede te pleeg, huisbraak met die doel om te roof, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ’n semi-outomatiese pistool.
Mtsweni en Maloba word ook van regsverydeling aangekla nadat hulle glo valse verklarings aan ondersoekers gemaak het.
Al vyf beskuldigdes is dieselfde dag, slegs ure ná die aanval, aangekeer.
Getuienis oor die ondersoek
Kol. Frank Radue het vroeër getuig dat Mtsweni en Maloba hulself kort ná die aanval tydens die afneem van getuieverklarings vasgepraat het.
Volgens Radue het die twee aanvanklik voorgegee dat hulle slagoffers of getuies van die voorval was, maar hul verklarings het inligting bevat wat volgens die ondersoekers slegs aan iemand bekend sou wees wat van die aanval geweet het.
“Toe ek Mtsweni konfronteer met wat Beskuldigde 2 (Maloba) gesê het, het sy alles geweet van die aanval, wie die verdagtes was en waar hulle woon,” het Radue getuig.
Hy het verder gesê die inligting wat tydens die ondervraging na vore gekom het, het ondersoekers gehelp om ander verdagtes op te spoor.
Volgens Radue is Thami Walter Masondo kort daarna opgespoor. “Hy het weggehardloop. Ons het hom gevang en meegedeel dat twee ander verdagtes hom as ’n betrokkene in die aanval op ’n ouer vrou geïdentifiseer het.”
Teen die tyd van die arrestasies is verskeie van Esterhuizen se gesteelde besittings teruggevind, waaronder haar Ford Ranger-bakkie, ’n rusbank en tuingereedskap.
Die verdediging voer egter aan dat Mtsweni en Maloba nie aan die aanval deelgeneem het nie. Volgens hul weergawe was hulle in Mtsweni se kamer toe hulle wakker geword het van voetstappe buite.
Hulle beweer vier mans het hul selfone afgevat en hulle vasgebind voordat drie van die mans die vertrek verlaat het. Die vierde persoon het glo later vertrek nadat hy ’n oproep ontvang het, waarna die huiswerker na Esterhuizen gaan soek het.
Die verhoor sou Dinsdag voortgaan, maar is weens kragprobleme by die hof uitgestel.