MOSKOU – ‘n Parlementêre afvaardiging onder leiding van die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), Refilwe Mtshweni-Tsipane, is vandeesweek op ‘n amptelike werksbesoek aan Rusland om parlementêre samewerking tussen die twee lande te versterk.
Mtshweni-Tsipane het met die voorsitter van die Russiese Staatsdoema, Vjatsjeslaf Volodin, vergader waar die uitbreiding van samewerking tussen die twee wetgewende liggame bespreek is.
Volgens die Suid-Afrikaanse Parlement het die twee partye saamgestem dat parlementêre diplomasie ‘n belangrike rol speel in die versterking van bilaterale betrekkinge deur wetgewing, toesig en dialoog.
Mtshweni-Tsipane het ook gevra dat die samewerkingsooreenkoms verder geïmplementeer word deur groter uitruiling tussen parlementslede en komitees.
Die vierdagbesoek vind op uitnodiging van Valentina Matvienko, voorsitter van die Federasieraad van Rusland se Federale Vergadering, plaas.
Volgens die Parlement bied die besoek ‘n geleentheid om samewerking binne multilaterale instellings, veral die BRICS-Parlementêre Forum, te bevorder en die rol van parlemente in internasionale dialoog te versterk.
Die afvaardiging het Dinsdag ook ‘n krans by die Graf van die Onbekende Soldaat teen die Kremlin-muur gelê.
Die samestelling van die afvaardiging het egter vrae laat ontstaan.
Van die vyf parlementslede wat die besoek meemaak, is vier ANC-lede, terwyl Imraan Ismail-Moosa van Al Jama-ah die enigste verteenwoordiger van ‘n ander party is.
Parlementêre internasionale afvaardigings bestaan gewoonlik uit verteenwoordigers van verskeie politieke partye.