Boere van die Sannieshof-gemeenskap en private sekuriteitsmaatskappye se hulp en vinnige optrede het Vrydag, 30 Oktober, daartoe gelei dat drie vermeende bankrowers kort ná die rooftog aangekeer is.

Die rooftog het omstreeks 10:30 plaasgevind. Een van die verdagtes het buite die bank gewag, terwyl die ander twee die perseel binnegegaan het.

Een van die mans het na die bankbestuurder se kantoor gegaan, waar hy ’n vuurwapen op hom gerig en hom beveel het om saam te werk.

Die bestuurder is daarna na die kluis gedwing, waar hy opdrag gekry het om geld in sakke te plaas. Die verdagtes het daarna met die geld in ’n wit Toyota Corolla gevlug.

Ná die rooftog het die polisie ’n multidissiplinêre operasie van stapel gestuur. Die Sannieshof Farmer’s Community in Blue, die sigbare polisiëringseenhede van Sannieshof en Biesiesvlei, Sannieshof-speurders, polisielede van Lichtenburg en Coligny, die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), die Taktiese Reaksiespan (TRT) en die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum (LCRC) was by die operasie betrokke.

Die Sannieshof Farmer’s Community in Blue het volgens die polisie ’n deurslaggewende rol gespeel om die verdagtes op te spoor en vas te trek.

Met behulp van ’n bestaande kameranetwerk wat die in- en uitgange van Sannieshof monitor, kon boere en kameraoperateurs belangrike beeldmateriaal en intydse inligting oor die verdagtes se bewegings met die polisie deel.

Die polisie het die inligting opgevolg en later op die Ottosdal-pad ’n wit Hyundai met drie insittendes opgemerk.

Die drie verdagtes, tussen 47 en 49 jaar oud, is daarna aangekeer. Een van die sakke en klere wat na bewering tydens die bankroof gebruik is, is teruggevind.

Die wit Toyota Corolla wat vermoedelik tydens die rooftog gebruik is, is later verlate in Sannieshof gevind.

’n Hommeltuigoperateur en die Lichtenburg K9-eenheid is ook ontplooi om die gebied vir verdere bewysmateriaal te deursoek.

Die saak is aan die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek oorhandig vir verdere ondersoek.

Noordwes se provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Arthur Peter Adams, het die Sannieshof Farmer’s Community in Blue en die private sekuriteitsmaatskappye wat deel is van E2, oftewel Eyes and Ears of Police, vir hul hulp geloof.

Adams sê die samewerking tussen die SAPD en die breër boeregemeenskap was inspirerend en het volgens hom die ware gees van ubuntu weerspieël.

“Die dapper en onbaatsugtige optrede van gewone landsburgers tydens ’n ernstige misdaad wat aan die gang was, word opreg waardeer,” het hy gesê.

Die drie verdagtes sal Maandag in die Delareyville-landdroshof verskyn op aanklagte van bankroof.