Dierebene word ’n simbool van verlies, herinnering én nuwe lewe in ’n besondere kunsuitstalling wat van 19 tot 25 September in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument aangebied word.
Die weeklange opwipuitstalling van die Middelburgse kunstenaar Johanna Botha val saam met die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees, wat op 24 September by die Kultuurtuiste plaasvind.
Botha gebruik dierebene as medium waarop sy haar konseptuele kunswerke uitsny en skilder. Haar werk ondersoek temas soos verlies, oorlog, kulturele erfenis, herstel en hoop.
Vir Botha is been meer as bloot ’n ongewone kunsmedium. As die laaste tasbare oorblyfsel van ’n lewende wese verteenwoordig dit volgens haar verlies en sterflikheid, maar terselfdertyd ook krag, standvastigheid en familieherkoms.
“Ek kanaliseer hierdie artistieke reis metafories deur dierebene,” verduidelik sy oor haar manier om emosies wat moeilik verwoord kan word, deur kuns uit te druk.
Botha verbind haar werk met die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog (ABO), en spesifiek met die verwoestende gevolge van die Britse verskroeideaardebeleid onder leiers soos Lord Roberts en Lord Kitchener.
Die bene verbeeld volgens haar die verlies en vernietiging van die oorlog, maar ook die blywende emosionele nalatenskap daarvan.
“Die verskroeideaardebeleid was daarop gemik om die Afrikaner se moed te breek, hulle te verswak en tot oorgawe te dwing deur hul hart en siel te vernietig,” sê Botha.
“Dit het ’n bitterheid gelaat wat vandag nog diep in die Afrikaner se kollektiewe geheue voortleef.”
Selfs die proses waardeur sy die bene voorberei, vorm deel van die betekenis van haar kuns. Botha steriliseer en dissekteer die bene voordat sy dit in nuwe vorms en kleure omskep. Die oorspronklik wit, steriele been word afgebreek en opnuut opgebou.
Dié proses verbeeld volgens haar verandering, aanpassing en oorgang — temas wat nie net op individue van toepassing is nie, maar ook op gemeenskappe en kulture wat deur moeilike tye moes aanpas en voortbestaan.
Die geestelike dimensie van Botha se werk speel ook ’n belangrike rol. Sy verwys na Esegiël 37:4, waar die profeet opdrag kry om oor die doodsbeendere te profeteer.
Vir haar dra dié Bybelse beeld ’n tydlose boodskap van herstel en nuwe lewe.
“My gebed is vir ’n beter Suid-Afrika; een van herstel en hoop deur Jesus Christus,” sê Botha.
Marize Möller, kurator van die FAK-VTM-Kunsgalery, meen die uitstalling bied ’n besondere invalshoek op die betekenis van Erfenisdag.
“Hierdie uitstalling herinner ons daaraan dat erfenis nie net iets is waarna ons kyk nie, maar iets waarmee ons in gesprek tree,” sê Möller.
Volgens haar dra Botha se werk die herinnering aan verlies en vernietiging, maar kyk dit ook verder as die verlede.
“Dit daag ons uit om te besin oor wat ons met daardie nalatenskap doen: bly ons daarin vasgevang, of kan dit transformeer in ’n boodskap van herinnering, versoening en hoop?”
Möller beskryf die FAK-VTM-Kunsgalery in die Senotaafsaal daarom as die “ideale ruimte” vir die uitstalling.
Botha se opwipuitstalling kan van 19 tot 25 September 2026 in die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument besigtig word.
Die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees vind op 24 September plaas. Suid-Afrikaanse burgers kan die Monument dié dag teen halfprys besoek, terwyl die eerste twee kinders per gesin gratis toegang tot die Monument kry.
Kaartjies vir die Erfenisdagfees kan by vtm.org.za/erfenisfees bespreek word.