ÉCÔNE, SWITSERLAND – Die tradisionalistiese Genootskap van Sint Pius X (SSPX) het Woensdag vier nuwe biskoppe sonder die toestemming van pous Leo XIV in Switserland gewy, ondanks ‘n persoonlike pleidooi van die pous dat die seremonie nie moet voortgaan nie. Volgens die Rooms-Katolieke Kerk se kerkreg mag slegs die pous toestemming gee vir die wyding van biskoppe. Die stap kan daarom tot die outomatiese ekskommunikasie van die biskop wat die wydings uitgevoer het, sowel as die vier nuwe biskoppe, lei.
Die seremonie het in die Alpe-dorpie Écône plaasgevind en is regstreeks op sosiale media uitgesaai. Duisende ondersteuners het dit bygewoon.
Die vier nuwe biskoppe kom uit Switserland, Frankryk en die Verenigde State. Biskop Alfonso de Galarreta, wat self in 1988 sonder pouslike toestemming as biskop gewy is, het die seremonie gelei. Hy het die tradisionele ritueel van handoplegging uitgevoer – ‘n handeling wat Rooms-Katolieke glo die Heilige Gees van een biskop na ‘n ander oordra.
Net twee dae voor die seremonie het pous Leo XIV ‘n persoonlike brief aan die hoof van die SSPX, Davide Pagliarani, geskryf waarin hy die groep versoek het om nie met die wydings voort te gaan nie.
“Ek smeek u en vra u uit my hele hart: Heroorweeg asseblief hierdie besluit,” het die pous geskryf. Hy het die beplande seremonie as “‘n daad van kerkskeuring” en “‘n sonde van uiterste erns” beskryf.
Volgens die Rooms-Katolieke Kerk is die reël dat slegs die pous biskoppe mag aanstel, bedoel om die Kerk se apostoliese opvolging te beskerm – die ononderbroke lyn van biskoppe wat volgens die Kerk teruggevoer word na Jesus Christus se twaalf apostels.
Die SSPX het egter besluit om voort te gaan. Kort voordat die mis begin het, is ‘n verklaring namens die beweging voorgelees waarin aangevoer is dat die Rooms-Katolieke Kerk van haar tradisie afgewyk het.
“Ons beskou dit voor God as ‘n heilige plig teenoor die Kerk en gelowiges om biskoppe te wy wat volkome getrou bly aan haar heilige tradisie en haar voortdurende leer. Ons beskou enige straf of tugmaatreël wat weens hierdie stap opgelê word as ongeldig,” lui die verklaring.
Orrelmusiek het tydens die seremonie gespeel terwyl honderde priesters deur die bergdorpie na die beweging se seminarie opgeruk het waar die wydings plaasgevind het. Onder die toeskouers was ook lede van die Italiaanse neo-fascistiese party Forza Nuova en Futuro Nazionale, ‘n nuwe verregse politieke beweging in Italië.
Die Genootskap van Sint Pius X is in 1970 deur aartsbiskop Marcel Lefebvre in Écône gestig uit verset teen die hervormings van die Tweede Vatikaanse Konsilie tussen 1962 en 1965. Die beweging verwerp verskeie van dié hervormings, waaronder die besluit dat die Mis in plaaslike tale gevier mag word. Voor die hervormings is die Mis slegs in Latyn opgedra.
Ironies genoeg is Woensdag se seremonie, wat in Frans gehou is, regstreeks in Engels, Duits, Italiaans en Pools vertaal. Tydens die offergawe is ‘n QR-kode op die skerm vertoon sodat mense wat die seremonie aanlyn gevolg het, skenkings kon maak.
Hoewel die SSPX ‘n afstigtergroep is, het dit ‘n groot internasionale aanhang, veral in die Verenigde State, waar dit ‘n groot sentrum in Kansas het, asook in Frankryk, Argentinië en ander lande. Volgens die beweging het dit sowat 733 priesters wêreldwyd en bykans 1 500 priesters, seminariestudente en ander kerklike werkers.
Die jongste wydings kan die eerste groot krisis vir pous Leo XIV word. Sedert sy verkiesing het hy die herstel van eenheid binne die Rooms-Katolieke Kerk as een van sy belangrikste prioriteite gestel en veral probeer om die verdeeldheid met tradisionalistiese groepe te oorbrug.
Die SSPX en die Vatikaan het laas in 1988 ernstig gebots toe Lefebvre vier biskoppe sonder die toestemming van pous Johannes Paulus II gewy het. Hy en die vier biskoppe is destyds geëkskommunikeer. Pous Benedictus XVI het die ekskommunikasies in 2009 opgehef in ‘n poging om versoening te bevorder. Kort tevore het een van dié biskoppe, Richard Williamson, egter groot opspraak veroorsaak deur die Holocaust te ontken.