’n Nuwe AfriForum-verslag oor 47 plaas- en kleinhoewe-aanvalle waarin marteling volgens die organisasie voorgekom het, wys op herhalende patrone van ernstige geweld, afpersing en fisieke en sielkundige mishandeling.
Die verslag, More than robbery: Violence during attacks on farms and smallholdings in South Africa (2019–2025), ondersoek voorvalle oor ’n tydperk van sewe jaar waarin marteling geïdentifiseer is en genoeg besonderhede beskikbaar was om die voorvalle te ontleed. AfriForum beklemtoon dat nie elke plaasaanval met marteling gepaardgaan nie.
Die studie is hoofsaaklik op oopbron-inligting, waaronder mediaberigte, gegrond en gebruik die omskrywing van plaasaanvalle in die SAPD se Nasionale Landelike Veiligheidstrategie.
Vir die studie word marteling omskryf as die doelbewuste toediening van ernstige fisieke of sielkundige pyn, lyding, brutaliteit of geweld. Dit sluit onder meer ernstige aanranding, verminking, brand, afpersing, intimidasie en seksuele aanranding in.
Vier patrone kom na vore
AfriForum het die 47 voorvalle volgens vier hoofkenmerke ontleed: die middele waarmee slagoffers gemartel is, die fisieke beserings wat hulle opgedoen het, die gebruik van marteling om slagoffers af te pers en die voorkoms van buitensporige geweld.
Messe, koevoete, grawe, pangas en ander stomp voorwerpe is in die bestudeerde aanvalle gebruik. In sommige gevalle is huishoudelike voorwerpe en ander items, waaronder kookwater, warm strykysters, elektriese koorde en draad, teen slagoffers gebruik. Koorde, draad en kledingstukke is ook gebruik om mense vas te bind. Vuurwapens is volgens die verslag gebruik om slagoffers te intimideer en in sommige gevalle dood te maak.
Die beserings wat in die verslag gedokumenteer word, sluit onder meer veelvuldige steekwonde, gebreekte ledemate en kake, skedelfrakture, ernstige breinbeserings en brandwonde in. Gevalle van verkragting en ander seksuele geweld word ook aangeteken.
Die studie beskryf verder voorvalle waarin ernstige pyn en vrees gebruik is om slagoffers te dwing om geld, vuurwapens, sleutels of ander waardevolle items af te staan.
Een van die gevalle wat ondersoek is, is die aanval in 2024 op Hayden Luck se plaas buite Oos-Londen. Volgens die verslag is hy vasgebind, geslaan en geskop terwyl aanvallers geld en sleutels tot sy ammunisiekluis geëis het.
Luck is daarna aan ’n martelmetode onderwerp wat die ervaring van verdrinking naboots en is ook in ’n bad warm water gedwing. Die aanvallers het hom volgens die verslag verder gedreig dat hulle hom met ’n kettingsaag sou vermink en het ’n mes teen sy keel gehou.
In ’n ander geval is die 84-jarige Hester Esterhuizen in 2021 op ’n plaas buite Bronkhorstspruit aangeval. Sy is volgens die verslag aangerand en met warm water en ’n blaasvlam aan haar hande en voete gebrand terwyl haar aanvallers geld en vuurwapens geëis het.
‘Nasionale landelike veiligheidsprobleem’
Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê die ernstige geweld wat in die studie ondersoek is, is nie tot een deel van Suid-Afrika beperk nie.
“Dié wrede aanvalle kom in elke provinsie voor en bevestig dat plaasaanvalle ’n nasionale landelike veiligheidsprobleem is wat ’n doelgerigte en gespesialiseerde reaksie vereis,” sê Broodryk.
Die verslag bevind dat die 47 ondersoekte voorvalle nie tot een geografiese gebied of ’n bepaalde jaar beperk was nie. AfriForum voer aan dat dit daarop dui dat marteling tydens sekere plaasaanvalle ’n wydverspreide verskynsel is.
AfriForum meen die aard van die geweld regverdig ’n besondere benadering tot plaasaanvalle en vra dat dit as ’n prioriteitsmisdaad erken word. Die organisasie wil hê ’n gespesialiseerde benadering moet gevolg word, soos volgens hom reeds met misdade soos transitorowe, geslagsgebaseerde geweld, onwettige mynbou en onwettige wildhandel gebeur.
“Die aard van plaasaanvalle vereis gespesialiseerde intelligensie, doelgerigte ondersoeke, toepaslike polisiëringshulpbronne en doeltreffende samewerking met landelike gemeenskappe,” sê Broodryk.
Oproep oor ‘Kill the Boer’
AfriForum doen ook ’n beroep op die regering en politieke leiers om retoriek wat die organisasie as opruiend en haatlik teenoor Suid-Afrika se boerderygemeenskappe beskou, waaronder die “Kill the Boer”-dreunsang, ondubbelsinnig te veroordeel.
“Politieke leiers kan nie aanvoer dat hulle ernstig is oor die bekamping van geweld, maar swyg wanneer opruiende retoriek wat ’n spesifieke gemeenskap teiken, genormaliseer word nie,” sê Broodryk.
AfriForum voer verder aan dat landelike gemeenskappe nie uitsluitlik op die staat se reaksie op geweldsmisdaad kan staatmaak nie. Hoewel openbare veiligheid ’n grondwetlike verantwoordelikheid van die regering is, meen die organisasie gemeenskappe moet ook bemagtig word om ’n aktiewe rol in hul eie veiligheid te speel waar polisiehulpbronne en reaksievermoë onvoldoende is.
Die organisasie sê hy sal daarom sy 178 buurt- en plaaswagte verder uitbrei en versterk en meer in vrywilligersopleiding, gespesialiseerde reaksievermoë, tegnologie en kommunikasienetwerke belê.
AfriForum beplan ook om sy traumaeenheid se kapasiteit uit te brei, plaasaanvalle verder te dokumenteer en druk op die regering uit te oefen vir die doeltreffende uitvoering van die nasionale landelike veiligheidstrategie.