Daar is groot vreugde en dankbaarheid in die Schutte-gesin nadat dogter, Roné, internasionale erkenning verwerf het as een van die wêreld se toppresteerders in die Cambridge-eksamenstelsel.
Roné, wat onlangs haar sestiende verjaardag gevier het, het boonop die besondere eer ontvang om die gesogte “Top in the World”-toekenning te kry vir die hoogste punt wêreldwyd in ’n spesifieke vak. Sy sal op 21 Mei in Johannesburg vereer word tydens die Outstanding Cambridge Learners Awards.
Die Cambridge-toekennings erken leerders wat wêreldwyd uitmunt in hul IGCSE-, AS- en A-vlak-eksamens – ’n bewys van uitsonderlike vermoë en volgehoue inspanning. Om op internasionale vlak mee te ding en dan nog uit te blink, is geen geringe prestasie nie, en dit maak die oomblik soveel meer spesiaal.
Haar familie praat met trots oor haar prestasie: “Ons kyk met opgewonde verwagting na al die horisonne waar die Here se paaie vir haar, haar in die toekoms nog heen gaan lei. Ons is ook weereens dankbaar vir die voorreg om deur tuisonderrig vir ons kinders ’n klassiek-Christelike opvoeding te kan gee. Christine (haar ma) is sekerlik die beste mentor wat die Here vir ons kinders kon gee.”