Absa het binne ’n jaar 79 tradisionele banktakke in Suid-Afrika gesluit en 120 kitsbanke en ander kontanttoestelle verwyder namate die bank sy netwerk by veranderende klantvoorkeure en die toenemende gebruik van digitale bankdienste aanpas.
Tussen Junie 2025 en Junie 2026 het Absa, Suid-Afrika se vierde grootste bank volgens JSE-genoteerde markwaarde, sy aantal tradisionele takke van 438 tot 359 verminder.
Oor dieselfde tydperk het die aantal kitsbanke en kontanttoestelle van 5 096 tot 4 976 afgeneem.
Die afname weerspieël volgens die bank laer kontanttransaksievolumes en veranderende klantgedrag weg van tradisionele kontanttoegangspunte.
Pieter van Eeden, Absa se tussentydse uitvoerende bestuurder vir geïntegreerde kanale, sê die bank het sy Suid-Afrikaanse verspreidingsnetwerk aangepas namate klante toenemend na digitale en selfdienskanale beweeg.
Volgens hom vorm die veranderings deel van Absa se voortgesette optimalisering van sy verspreidingsnetwerk om sy fisieke infrastruktuur by veranderende klantbehoeftes aan te pas, terwyl toegang tot bankdienste deur ’n kombinasie van verskillende kanale behou word.
Hoewel Absa sy tradisionele taknetwerk aansienlik verklein het, het die bank terselfdertyd sy kleiner verkoops- en dienspunte uitgebrei.
Die aantal van dié kleiner diensplekke het tussen Junie 2025 en Junie 2026 van 122 tot 215 toegeneem — ’n styging van 93.
Wanneer tradisionele takke en die kleiner verkoops- en dienspunte saamgetel word, het Absa se totale aantal fisieke klantedienspunte volgens Van Eeden gevolglik van 560 tot 574 toegeneem.
Absa se tradisionele takke bied omvattende bankdienste, waaronder kontantdeposito’s en -onttrekkings, asook advies-, verkoops- en diensondersteuning.
Die kleiner verkoops- en dienspunte bied nie kontantdeposito’s of kontantonttrekkings oor die toonbank nie. Klante kan daar wel ondersteuning met digitale bankdienste ontvang, tesame met toegang tot selfdiensbankopsies soos kitsbanke en kontantgeaktiveerde toestelle.
Absa sê hy hersien voortdurend die omvang van sy netwerk en sal aanpassings maak waar dit op grond van klantvraag, gebruikstendense en strategiese prioriteite gepas is.
Volgens Van Eeden sal toekomstige veranderings daarop gemik wees om klantetoegang en die klante-ervaring te verbeter, eerder as bloot om die beskikbaarheid van bankdienste te verminder.