JOHANNESBURG – Graan SA het sy standpunt oor invoertariewe, landboutegnologie en die ontwikkeling van boere verdedig en gesê volhoubare plaaslike voedselproduksie is noodsaaklik om Suid-Afrika se voedselsekerheid op die lang termyn te verseker.
Graan SA se uitvoerende hoof, dr. Tobias Doyer, het Dinsdag voor die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se nasionale ondersoek na voedselsisteme getuig. Tydens die verrigtinge is hy deur die kommissie se getuienisleiers uitgevra oor die rol van kommersiële landbou in die bekamping van hongersnood, voedselbekostigbaarheid en sosio-ekonomiese ongelykheid.
Die getuienis volg nadat die SAMRK in Maart die eerste fase van sy ondersoek bekend gemaak het. Volgens die kommissie se bevindings gaan meer as 14 miljoen mense, of 22,2% van huishoudings, gereeld honger slaap.
Die kommissie het ook daarop gewys dat wanvoeding onder kinders ‘n groeiende probleem is. Meer as een uit elke vier kinders ly aan groeivertraging (stunting), wat as ‘n belangrike aanduiding van langdurige voedingstekorte beskou word.
Tydens die verhoor het getuienisleiers Doyer uitgevra oor die bydrae wat kommersiële landbou kan lewer om hongersnood te verlig, voedsel bekostigbaar te hou en ongelykheid te verminder.
“Ek dink ons, as Graan SA, is een van die organisasies wat die grootste bydrae tot voedselsekerheid lewer,” het Doyer gesê.
Hy het Graan SA se standpunt oor invoertariewe, die gebruik van moderne landboutegnologie en die ontwikkeling van boere verdedig en beklemtoon dat volhoubare plaaslike voedselproduksie noodsaaklik is om Suid-Afrika se bevolking op die lang termyn van voldoende voedsel te voorsien.
Die Menseregtekommissie se ondersoek fokus op die werking van Suid-Afrika se voedselsisteem en ondersoek hoe verskeie rolspelers kan bydra om honger, armoede en voedselonsekerheid in die land te verminder.