NEW YORK – ‘n Waaghals-paartjie wat wêreldwyd bekend geraak het vir hul gevaarlike klimtogte op wolkekrabbers, staan tereg nadat hulle sonder toestemming tot bo-op die Empire State-gebou se antenna geklim het, waar Ivan Kuznetsov, beter bekend as Ivan Beerkus, vir Angela Nikolau gevra het om te trou.
Nikolau (33) en Kuznetsov (32) het in ‘n New Yorkse hof verskyn op aanklagte van onder meer roekelose lewensgevaar, huisbraak en ander oortredings.
Volgens aanklaers het Kuznetsov aan die polisie gesê hy wou “iets besonders” doen vir die huweliksaansoek.
Die paartjie was die onderwerp van die 2024 Netflix-dokumentêr Skywalkers: A Love Story, wat hul gevaarlike klimtogte op hoë geboue en hul ontluikende liefdesverhouding volg. Volgens die dokumentêr het hulle soms as konstruksiewerkers voorgedoen om ongemagtigde toegang tot geboue te verkry.
Die paartjie het tot bo-op die Empire State-gebou se antenna geklim, sowat 443 meter bo die strate van Manhattan. Daar het hulle ‘n swart banier ontvou met die woorde: “Wanneer die krag van liefde die liefde vir mag oorwin, sal die wêreld vrede ken.”
Nadat die banier weer verwyder is, het Kuznetsov vir Nikolau op ‘n laer platform in die huwelik gevra. Sy het later foto’s van die huweliksaansoek, waaronder een van ‘n verloofring met Manhattan in die agtergrond, op sosiale media gedeel.
Volgens hofstukke het die polisie sowat 30 minute gewag totdat die antenna afgeskakel is. Lede van die polisiediens se Nooddienste-eenheid het daarna begin opklim en die paartjie onderskep terwyl hulle besig was om af te klim.
Die beamptes moes self tot ongeveer 381 meter bo die grond klim om by die paartjie uit te kom.
Die ondersoek het verder aan die lig gebring dat ‘n slot by ‘n veiligheidsdeur op die beperkte 104de verdieping oopgebreek is. Die hoogste verdieping wat vir die publiek toeganklik is, is die 102de, terwyl toegang tot die antenna slegs met ‘n toegangskaart verkry kan word.
Die bestuur van die Empire State-gebou het die klimtog as ongemagtig beskryf, maar wou nie kommentaar lewer oor enige kontak tussen die paartjie en veiligheidsbeamptes nie.
Nikolau en Kuznetsov is sonder borgtog vrygelaat, soos New York se wetgewing in dié soort sake voorskryf.
Hul regsverteenwoordiger, Jason Krinsky, het gesê sy kliënte sal die staat se bewyse bestudeer voordat hulle besluit hoe hulle die saak verder gaan hanteer.
“Dis darem ‘n manier om iemand in die huwelik te vra waarvan die meeste mense net kan droom,” het Krinsky gesê.
Die Empire State-gebou is al voorheen deur waaghalse uitgeklim, hoewel die meeste van dié klimtogte sonder toestemming plaasgevind het. Die akteur en musikant Jared Leto het egter in 2023 amptelike toestemming gekry om vanaf die 86ste verdieping tot by die voet van die antenna te klim as deel van die bekendstelling van ‘n musiektoer.