WASHINGTON – Die Verenigde State en Iran het ooreengekom om hul jongste militêre aanvalle te staak nadat wedersydse vergeldingsaanvalle hul voorlopige vredesooreenkoms onder druk geplaas het. Die twee lande beplan om onderhandelinge voort te sit in ‘n poging om die konflik in die Midde-Ooste te beëindig.
‘n Amerikaanse amptenaar het Sondag bevestig dat tegniese gesprekke oor die memorandum van verstandhouding tussen Washington en Teheran sal voortgaan.
“Albei kante sal vir eers terugstaan en skepe sal weer vryelik deur en om die Straat van Hormuz kan beweeg,” het die amptenaar gesê.
Iran het nie onmiddellik op die verklaring gereageer nie. Die Amerikaanse amptenaar wou ook nie bevestig of nuwe gesprekke Dinsdag in Katar sal plaasvind nie.
Die jongste spanning beklemtoon hoe broos die ooreenkoms is wat met Pakistan se bemiddeling bereik is om die oorlog te beëindig. Die konflik het reeds duisende mense se lewens geëis en internasionale olieverskepings deur die Straat van Hormuz ernstig ontwrig.
Hoewel ‘n skietstilstand reeds in April ingestel is, het sporadiese geweld in die Golfstreek voortgeduur. Die Straat van Hormuz, waardeur ongeveer ‘n vyfde van die wêreld se olie- en vloeibare aardgasverskepings beweeg, bly ‘n belangrike twispunt.
Iran dring daarop aan dat skepe deur ‘n vaarroete naby sy kus moet beweeg. Die land se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, het gewaarsku dat enige poging om alternatiewe roetes te gebruik die spanning verder sal verhoog en die heropening van die waterweg kan vertraag.
Volgens internasionale seereg kan Iran en Oman, wie se territoriale waters die seestraat omvat, egter nie normaalweg deurgang verbied of tolgeld hef nie.
Die jongste geweld het vroeg Sondag begin toe die Amerikaanse Sentrale Bevel (Centcom) aangekondig het dat tien militêre teikens in Iran aangeval is in reaksie op wat as voortgesette Iranse aggressie teen kommersiële skeepsvaart beskryf is.
Iran het daarna verklaar dat hy Amerikaanse militêre basisse in Koeweit en Bahrein aangeval het. Albei lande het die aanvalle veroordeel.
Iran se Revolusionêre Wag het intussen gesê die land sal voortgaan om skeepsverkeer in die Straat van Hormuz te beheer en strenger teen skepe op te tree wat sy voorskrifte oortree.
Mohammad Mokhber, ‘n adviseur van Iran se opperleier, het gesê Washington se “hegemoniese drome” in die streek sal nie verwesenlik word solank Iran die seestraat bestuur nie.
Ontleders meen voorvalle in die Straat van Hormuz sal waarskynlik voortduur omdat Iran die waterweg as ‘n belangrike drukmiddel in die onderhandelinge beskou.
Intussen het die konflik ook na Libanon uitgebrei. Die Israeliese weermag het Sondag ‘n uitgebreide tonnelstelsel in die suide van die land vernietig. Volgens Israel is honderde wapens en verskeie lanseerplekke daarin gevind wat bedoel was om Israel aan te val.
Hezbollah het die aanvalle as ‘n verbreking van die skietstilstand bestempel en gesê die beweging behou die reg voor om op Israel se optrede te reageer.
Libanon is vroeër vanjaar by die konflik betrek nadat Hezbollah vuurpyle op Israel afgevuur het ter ondersteuning van Iran, waarna Israel met lugaanvalle en ‘n grondoffensief gereageer het.