Karen Kennedy (59) het geskiedenis gemaak as die eerste en vinnigste vrou om ’n viervoudige oorgang tussen die vasteland en Robbeneiland in “skins” (sonder ’n duikpak) te voltooi. Sy het bykans 30 kilometer in die yskoue Atlantiese waters tussen Blouberg en Robbeneiland afgelê in net meer as tien uur – ’n prestasie wat tans wag op amptelike bekragtiging deur Guinness Wêreldrekords.
’n Viervoudige oorgang behels dat ’n swemmer die kanaal tussen Bloubergstrand en Robbeneiland vier keer agtereenvolgens oorsteek.
Die “skins”-kategorie volg streng marathonswemreëls: duikpakke word nie toegelaat nie, en swemmers mag slegs ’n gewone swembroek, swemkap en swembril dra, ten spyte van die ysige Atlantiese water.
Met haar 60ste verjaarsdag om die draai het Kennedy — ’n voormalige provinsiale swemmer wat eers in haar veertigs na die sport teruggekeer het — dit ten doel gestel om vroue ouer as 50 te inspireer om hul lank gekoesterde drome na te jaag.
“Drome het nie ’n vervaldatum nie,” sê Kennedy. “Vir lank is baie van ons geleer dat daar sekere rolle is wat ons moet vervul … maar daardie grense is nie onveranderlik nie.”