President Cyril Ramaphosa het die voormalige politikus en onderhandelaar Roelf Meyer as Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in die Verenigde State aangestel.
Die presidensie, deur woordvoerder Vincent Magwenya, het bevestig dat Meyer die pos oorneem by Ebrahim Rasool – ’n skuif wat volg ná ’n jaar van toenemende spanning tussen Pretoria en die VSA.
Meyer, tans 78 jaar oud, “bring dekades se politieke en onderhandelings-ervaring na die pos”. Hy het ’n prominente rol gespeel tydens Suid-Afrika se oorgangstydperk in die vroeë 1990’s en was een van die sleutelfigure in die Groote Schuur-gesprekke ná die wettiging van die ANC. Verder het hy nou saam met Ramaphosa gewerk tydens die onderhandelinge wat uiteindelik tot die beëindiging van apartheid gelei het.
Die verhouding tussen Suid-Afrika en die Verenigde State het die afgelope tyd onder druk gekom weens verskeie beleidsverskille en geopolitieke spanning. Meyer se taak sal wees “om vertroue te herbou”.
Mens wonder maar net of juis die beleide wat hy help skep in die ou bedeling, die geopolitieke spanning sal help verlig en vertroue weer sal herwin vir SA….