Die polisie het twee krokodille uit die agterplaas van ’n huis in Springs verwyder nadat hulle glo onwettig in ’n staalhok aangehou is asof dit troeteldiere was.
Die twee Nylkrokodille, onderskeidelik 1,48 meter en 1,7 meter lank, is glo langer as twee jaar sonder die nodige permitte daar aangehou.
Die polisie sê die diere is Maandag tydens ’n klopjag ontdek. Die operasie is uitgevoer saam met die Tshwane K9-eenheid, die Gautengse departement van omgewingsake, die Vereenigingse eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, asook die Johannesburgse Wildlewe-Veeartsenyhospitaal.
Die Springs DBV het ook gehelp.
Volgens die polisie is inligting ontvang dat twee skilpaaie en twee krokodille sonder permitte op die eiendom aangehou word. ’n Deursoekingslasbrief is daarna by die Springs-landdroshof bekom.
Toe beamptes omstreeks 10:00 by die huis aankom, was die eienaar nie daar nie. ’n Bestuurder van die eienaar se onderneming het hulle toegang tot die eiendom gegee.
Op die perseel het hulle ’n swart staalhok van ongeveer 5,6 meter by 1,8 meter gevind. Binne-in was die twee krokodille saam met ’n klein blou plonspoel.
Geen skilpaaie is op die eiendom gevind nie.
Die krokodille is na die Johannesburgse Wildlewe-Veeartsenyhospitaal geneem vir ondersoeke en versorging.
’n Saak is by die Springs-polisiestasie geopen vir die beweerde oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit, wat die aanhou van beskermde of bedreigde diere sonder permit verbied.
Die polisie waarsku mense wat eksotiese diere of wild as troeteldiere wil aanhou om seker te maak hulle voldoen aan die wet en oor die nodige permitte beskik.