Viermalige Olimpiese medaljewenner Tatjana Smith sal voortaan vir Nederland swem nadat World Aquatics haar verandering van sportnasionaliteit goedgekeur het.

Smith, wat voorheen as Tatjana Schoenmaker bekend was, het op 10 November aangekondig dat sy die volgende hoofstuk van haar swemloopbaan onder die Nederlandse vlag sal aanpak. Sy het dubbele Suid-Afrikaanse en Nederlandse burgerskap.

“Om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig was my grootste kinderdroom. Om daardie droom te kon uitleef en vier Olimpiese medaljes te wen, is iets wat ek altyd sal koester,” het Smith gesê.

Smith het twee goue en twee silwer Olimpiese medaljes oor die Tokio 2020- en Parys 2024-Spele gewen. Sy het goud in die 200 m-borsslag in Tokio en goud in die 100 m-borsslag in Parys gewen.

Sy het ná die Parys-Spele in 2024 uitgetree, maar in September 2026, ná byna twee jaar uit die sport, aangekondig dat sy na mededingende swem terugkeer met die Los Angeles 2028-Olimpiese Spele in die visier.

Smith sê haar besluit om Nederland te verteenwoordig gee haar die geleentheid om ’n ander deel van haar identiteit en erfenis deur sport te ontdek.

Sy sê groter hoëprestasie-ondersteuning en die moontlikheid om ’n meer volhoubare swemloopbaan te bou, het ook ’n rol in haar besluit gespeel.

“Die finansiële en praktiese uitdagings van swem was van die redes waarom my vorige loopbaan moeilik geword het om vol te hou,” het sy gesê. “Hierdie keer wil ek ’n ander keuse maak en die liefde beskerm wat my terug na die sport gebring het.”

Smith het in September aan die Suid-Afrikaanse kortbaan-kampioenskappe in Pietermaritzburg deelgeneem en die nasionale 50 m-borsslagtitel in 29,50 sekondes gewen.

Haar eerste internasionale byeenkoms vir Nederland sal die Wêreld-kortbaankampioenskap in Beijing van 1 tot 6 Desember wees.

Smith sal steeds in Suid-Afrika woon en saam met haar huidige span oefen, maar sal by internasionale kompetisies en oefenkampe by die Nederlandse span aansluit.

Die besluit kom teen die agtergrond van haar onlangse kritiek op Swimming South Africa oor onder meer finansiële ondersteuning en prysgeld.

SSA het meer as ’n jaar lank $35 000 se prysgeld wat Smith by die 2023-Wêreldkampioenskap in Fukuoka gewen het, teruggehou. Die bedrag het bestaan uit $20 000 vir haar goue medalje in die 200 m-borsslag en $15 000 vir silwer in die 100 m-borsslag.

Bewys van betaling is op 1 Augustus 2024, die dag van haar silwermedalje in die 200 m-borsslag by die Parys-Spele, aan haar man gewys. Die rente wat op die bedrag verdien is, is later betaal nadat haar regsverteenwoordigers dit geëis het.

Smith het gesê haar besluit is nie ’n verwerping van Suid-Afrika of van wat sy hier bereik het nie.

“Ek het Suid-Afrika aan die begin van my loopbaan gekies omdat ek wou wys wat moontlik is, selfs wanneer die stelsel dit nie maklik maak nie,” het sy gesê.

“Maar ek glo ook ons atlete verdien ’n stelsel wat hulle die geleentheid gee om te floreer, nie net te oorleef nie.”

Smith sê die medaljes, die trots om die Suid-Afrikaanse volkslied te sing en alles wat sy saam met Suid-Afrika bereik het, sal altyd deel van haar bly.