Suid-Afrika se tronke het ’n besettingsvlak van 157%, wat beteken hulle is 57% oorvol. Volgens die Minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, is dit ’n probleem wat nie op kort termyn opgelos sal word nie.
Hy het in reaksie op parlementêre vrae van MKP-LP Musawenkosi Gasa gesê die gevangenisbevolking was op 20 Februarie 2026 168 355 mense, waarvan 105 648 gevonniste oortreders en 62 707 verhoorafwagtende gevangenes is. Dit is teenoor ’n goedgekeurde kapasiteit van 107 067 beddens.
Volgens ’n streekverdeling het die Oos-Kaap die hoogste besettingsvlak met 184%, gevolg deur Gauteng en die Wes-Kaap met 169% elk, en KwaZulu-Natal met 152%. Limpopo, Mpumalanga en Noordwes het saam ’n besettingsvlak van 148%, terwyl die Noord-Kaap en Vrystaat 126% bereik.
Groenewald het gesê die Departement van Korrektiewe Dienste se mandaat is om hofvonnisse uit te voer en die veilige aanhouding van gevangenes te verseker. Hy het beklemtoon dat die korrektiewe stelsel nie bloot op straf gemik is nie, maar ook op die beskerming van die publiek, rehabilitasie en die bevordering van menslike ontwikkeling om herhaling van misdaad te verminder.
Volgens die Grondwet het elke aangehoudene die reg op menswaardige aanhoudingstoestande, insluitend oefening en die voorsiening van voldoende akkommodasie, voeding, leesmateriaal en mediese sorg.
Groenewald het oorbevolking as ’n komplekse en hardnekkige probleem beskryf wat saamhang met die breër probleem van misdaad. Die departement implementeer tans ’n Oorbevolkingsverminderingstrategie, wat onder meer borgtoghersienings, oorweging van tyd reeds in aanhouding, mediese parool, presidensiële kwytskeldings, vermindering van boetes en spesiale kwytskelding van vonnisse insluit.
Hy het gesê die oplossing vereis ’n geïntegreerde benadering tussen verskeie rolspelers in die strafregstelsel, waaronder die polisie, Regshulp Suid-Afrika, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Departement van Justisie.
Groenewald het bygevoeg dat korrektiewe dienste gevangenes volgens hofbevele aanhou en nie beheer het oor die prosesse wat tot hierdie bevele lei nie. Hy sê die kompleksiteit van oorbevolking vereis wetgewende, politieke en ekonomiese maatreëls, en kan nie vinnig opgelos word nie.
Intussen kon die departement nie nuwe bedspasies teen dieselfde tempo as gevangenes wat opgeneem word skep nie.