Stygende watervlakke in Kenia se Skeurvallei bedreig duisende mense, vernietig ondernemings en bring krokodille en seekoeie al hoe nader aan woongebiede, met wetenskaplikes wat die styging aan uiterste reënval, wat met klimaatsverandering verbind word, toeskryf.
Die waters van Meer Baringo en ander mere in die Skeurvallei het vlakke bereik wat in minstens 50 jaar nie gesien is nie.
Volgens amptelike syfers moes tienduisende mense reeds na hoër geleë gebiede vlug, maar baie inwoners sê die stygende water bly hul woongebiede inhaal.
Mary Milka Tiren (40) weet eerstehands hoe verwoestend die situasie kan wees. Haar man is in 2011 deur ‘n seekoei doodgemaak terwyl hy ná werk huis toe gestap het. Die oord waar hy gewerk het, is vandag heeltemal oorstroom.
‘n Dekade later is haar negejarige seun deur ‘n krokodil aangeval. Hy het drie maande in die hospitaal deurgebring en ‘n litteken aan sy regterarm opgedoen.
“Die krokodil wou sy hele arm van die skouer af afruk, maar sy maats het hom ná ‘n lang worsteling gered,” het Tiren gesê.
Volgens Jackson Komen, ‘n senior veldwagter van die Keniaanse Natuurdiens (KWS), neem krokodilaanvalle toe omdat die meer al hoe nader aan woongebiede uitbrei.
“Dit is nie omdat daar meer krokodille is nie, maar omdat die meer nou baie nader aan mense se huise is,” het hy gesê.
Hy waarsku ook dat die uitbreiding van die meer weiveld vernietig het, wat seekoeie nader aan mense dwing en die gevaar van aanvalle verhoog.
‘n Ontleding van satellietbeelde toon dat Meer Baringo se oppervlakte sedert 2010 met 70% toegeneem het – van sowat 138 vierkante kilometer tot 234 vierkante kilometer.
Die naburige Meer Bogoria het in dieselfde tydperk met 21% gegroei, terwyl die afstand tussen die twee mere nou na raming slegs 10 kilometer is.
Volgens Mathew Herrnegger van Oostenryk se Universiteit vir Natuurlike Hulpbronne en Lewenswetenskappe vloei water uit Meer Bogoria reeds in die rigting van Meer Baringo.
Komen waarsku dat die vermenging van die varswater van Baringo met die alkaliese water van Bogoria rampspoedige gevolge vir visse, krokodille en seekoeie kan inhou.
“Ons kan met ‘n ekologiese ramp sit wat ons nie weet hoe om te hanteer nie,” het hy gesê.
Meer Baringo voorsien noodsaaklike drink- en besproeiingswater en ondersteun ook ‘n belangrike visserybedryf, wat die bedreiging vir die gebied verder vergroot.
Die stygende water het ook die toerismebedryf swaar getref. Minstens vier vakansieoorde is deur die water oorstroom, terwyl talle wildbewaringsgebiede verlore gegaan het.
By Meer Bogoria, wat bekend is vir sy flaminke en warmwaterbronne, het die hoër waterpeile baie van die voëls verdryf en sommige warmwaterbronne onder water laat verdwyn.
Volgens plaaslike rampbestuursowerhede het toerisme-inkomste van ongeveer $1 miljoen per jaar tot sowat $200 000 gedaal.
Skole is ook geraak. Minstens 12 skole is deur die stygende water beïnvloed, waarvan sommige heeltemal onder water is.
By Kokwa Island Primary and Junior School moet sowat 240 leerders en personeellede daagliks per veerboot oor ‘n krokodilbesmette deel van Meer Baringo reis. Die veerboot se talle ritte verkort onderrigtyd, terwyl die meisieskoshuis gevaarlik naby die water lê.
Die skool vrees dat die El Niño-reën, wat na verwagting in Oktober sal voorkom, die koshuis kan oorstroom.
Vir baie inwoners is verhuising onvermydelik, maar geld ontbreek.
Faith Mpayei (40), ‘n ma van vyf, sê sy moes die heining om haar plaas reeds twee keer verskuif sedert 2016. Vandag lê die heining onder water en die meer staan reeds teen haar huis.
“Dit het my met niks gelaat nie,” het sy gesê.
“Ons is magteloos. Ek is net tydelik nog hier. Ek sal moet verhuis – daar is niks meer vir ons oor nie.”