’n Merinoskaap wat jare lank alleen in die ruwe Moordenaarskaroo oorleef het, kan nou help om die volgende geslag landboukundiges op te lei. Rico, die skaap wat verlede jaar met meer as 30 kilogram wol gevind is nadat hy vermoedelik sowat sewe jaar sonder menslike versorging rondgeswerf het, staan nou sentraal in ’n plan om geld vir ’n landboustudiefonds in te samel.
Volgens die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het Rico se verhaal mense regoor die land aangegryp en simboliseer dit die veerkragtigheid waarvoor Suid-Afrikaanse boere bekend is.
“Die feit dat Rico onder sulke moeilike omstandighede kon oorleef, spreek van die uithouvermoë en deursettingsvermoë wat ons ook by ons boere sien,” sê Dan Kriek, hoofbestuurder van die NWKV.
Rico het verlede jaar groot aandag getrek nadat hy op ’n plaas in die Moordenaarskaroo ontdek is. Nadat hy uiteindelik by Niel en Marietjie Brink beland het, is hy geskeer en sy 30,7 kg wol versigtig bewaar.
Die wol is later in samewerking met die NWKV na Gerber & Co in die Paarl gestuur, waar dit met die hand verwerk en gespin is. Uiteindelik is dit omskep in ’n unieke muurbehangsel wat tydens die NWKV se eeufeesvieringe uitgestal is.
Die vereniging en die Brink-egpaar wil nou op die sukses van dié projek voortbou deur die kunswerk te gebruik om geld vir ’n studiefonds in te samel.
“Ons droom is dat Rico se verhaal ’n blywende nalatenskap sal skep. Die geld wat ingesamel word, kan jong mense help om aan landbouwskole of universiteite te studeer en so ’n bydrae tot die toekoms van die bedryf maak,” sê Kriek.
Volgens die NWKV het Rico se verhaal reeds groot belangstelling gelok en het die muurbehangsel ’n sterk emosionele reaksie by besoekers ontlok.
Die hoop is dat ’n skaap wat teen alle verwagtinge in oorleef het, nou ook ’n nuwe geslag boere, landboukundiges en bedryfsleiers kan help om hul drome te verwesenlik.
“Dit is ’n treffende voorbeeld van die waarde van ons boere en die rol wat landbou in Suid-Afrika speel,” sê Kriek.
Die NWKV, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier, sê Rico se verhaal pas by uitstek by die organisasie se geskiedenis van volharding en groei.
“Ons wil saam met die Brinks iets blywend uit hierdie besonderse verhaal skep. As Rico se wol uiteindelik jong mense die geleentheid kan gee om landbou te studeer, sal dit ’n nalatenskap wees waarop almal trots kan wees,” sê Kriek.